Authors: Annelie Botes
kliphard verys is nie. Sy smelt die sneeu bietjie-bietjie met haar vroutrane.
Straks sal Gertruida se kwaad beterder raak as sy haar vroutrane daaraan smeer. Groot ding is net dat
sy nie ’n vrou wíl wees nie. Dra kakiebroeke en veterskoene; loop met ’n geweer rond en skiet ampers
beterder as ’n man. Sy werk soos ’n man. Vloek soos ’n man. Dryf trekker en melk soos een. Mabel sê
Gertruida het nie cutex of lipstiek nie. Nie een rok of skirt of onderrok in haar kas nie. Of ’n hoëhakskoen
of sykous nie. En sy dra lelike ouvrou-panties.
iNkosi, wat het Abel sy meisietjint aangedoen?
Hoekom het hy nooit met my gepraat oor die ding met hom en sy meisietjint nie? Ons kon altyddeur oor
allester praat. Behalwe die keer toe ons sonde gemaak het, was ek ál mama wat hy geken het. Maar oor
Gertruida het ons gethula, want dis ’n sjuut-sjuut ding van die donker; ’n nagadder wat soos weerlig pik.
Jy moenie kaalvoet in die donker loop nie. Dra jou skoene, laat hom slaap.
Buitendien, as ek uitrekent hoekom Abel nooit met my gekom praat het nie, sê my kop daar’s dinge wat
’n man nie eens vir iNkosi vertel nie, laat staan nog vir sy mama. Die laastere een vir wie hy vertel, is vir
homselwers. Is maar so met mans. Ons vrouens huil en vloek. Gooi koppies op die vloer. Slaan die
pleister uit die muur uit met ’n stuk brandhout. Maar ons raak gou beterder, want die kwaad vrot nie in
ons nie.
Mans maak anderster.
Hulle sluk die kwaad in, lepeltjie vir lepeltjie. Dan sak dit af tot by hulle man-spiese. En ’n spies vol
kwaad is soos ’n hiëna wat enige vrot ding vreet. Daaroor dat die tronke volsit van mans. Die Bybel sê
die slang het vir Eva gekom hinder en uitgetart. Ek sê daardie einste slang is vandag nog tussen ons;
vasgegroei aan die man se ondermaag. My gevoelentheid sê as elkere man in die wêreld se slang afgekap
word, sal daar vrede kom. Al moet iNkosi ons vrouens se lywe só skape dat ons toegroei aan onse
onderkante, en in die ander tyd raak as ons ’n rivierpadda of ’n hommelby insluk. En al moet die bybie
deur onse keelgate gebore kom.
Abel se gif was te veel vir sy maag.
Die tyd toe hy teruggekom het van sy vier jare in die army af, toe sien ek hier’s grote fout aan’t komme,
want sy kop is snaaks. Wilde kyk in sy oë. Skrik as mens agter hom praat. Een aand kom sit OuPieta by
my en Samuel langes die aandvuur. Hy sê toe Abel melk en die koei skop die emmer om, slaan Abel die
koei met die vuis in die ribbes, laters kry hy glads seer vir die koei se part. Vloek die koei tot onder ’n
vrou se rok in.
Daardie tyd toe loop kuier die ouman vir sy niggie in Hermanus se ouetehuis vir ’n week. Smaak my
agter ’n ander ou vrou aan wat hom op die ou end nie wil gehê het nie.
Wyl hy weg is, loop Samuel berg-in op soek na ’n bees; in die garingblaaikamp, in die taaiboskamp, in
die fonteinkamp. Anders sê die ouman die werksmense slag bees as hy sy rug draai. Samuel kry Abel in
die lap besemgoed anderkant die vygieboskamp waar hy op ’n miershoop sit met ’n bottel brandewyn.
“Ek het wyd verbygehou, Thandeka,” sê hy toe ons die aand sit en sterre kyk. “As ’n wit man alleen op
’n miershoop sit en dronk word, gaan die akkies spat.”
Verre paaie wat my kop nou vat. Maar laat hy maar loop ondersoek wat ondersoek moet kom. Anders bly
ek gepla.
Daardie tyd toe’s hier nog baie werksmense. Elkere huis het ’n hoenderkampie en ’n vetmaakvark.
Vroegmôre, voor die lusern verlep en die diere laat vrek van blousuur, loop sny die tjinners met sekels
luserngerfies vir die hoenders en die paar melkkoeie. Dan ry die ouman hulle met die bakkie tot op
Bosfontein, tot by Missus Magriet se skooltjie.
Jong juffrou gewees, daardie tyd. Slimme planne om gelerendheid in die tjinners se koppe in te kry.
Leer hulle somme maak met perskepitte. Laat hulle prente verf met braamsap en oopgevryfde stuifmeel,
dan gom hulle ’n raam rondom die prente met fyngekapte eierdoppe. Tot ’n netbalring opgesit sodat die
tjinners pouses kan ophou baklei onder mekaar.
En die ouman het goed gekyk na sy mense. Vir elkere keer dat hy met die sambok onder iemand
ingeklim het, het hy sy hand oopgehou ook. Werkskoene, overalls. Dit was nie soos nou se dae wat ons
ampers al ons kosgoed op die dorp loop koop nie. Elke huis kry melk, en groente van die lande af.
Lappies pampoene, uie, ertappels. Kool, tamaties, patats, skorsies. Wingerdtyd maak ons rosyne en
skonfaan. Juis ’n skonfaanstokery wat gesôre het dat Abel latertyd die wingerd uitgekap het.
Goeie jare gewees. Altyd stemme en doenighede op die werf. Tjinners wat speel. Hakiesdrade vol
bont wasgoeters. Aandvure. Vandag voel dit kompleet of ons met stilte en niksdoen geslaan is op
Kiepersolkloof. Abel sê mos op vandag se beesplase is dit net die windpompe en die hane en die bulle
wat hard werk.
Klokslag in daardie tye kom die kliniekkombi vir siektes, en om die tjinners te ent. Inspek almal vir
omlope en kopluise. Bring glads bybiemelk en botteltiete. Mooi gekyk agter Pietertjie. Dan moet hy sing
voor hulle sy skurftesalf gee. Baie liedjies wat Missus Susarah hom geleer het wyl hulle in die tuin werk.
Latertyd het hy al beginte as die kliniekkombi oor die knop aankom. “Vaarjakop, vaarjakop, slaap jy nog?
Alliebam, Alliebam oor die see …”
Maand vir maand kry elkere huis ’n slagskaap. Krismistyd slag die ouman ’n bees. So kom Samuel een
slagaand leë hand huis toe. Hy’t sy vleis weggegee, sê hy.
“Is jy mal om onse Krismisvleis te staan en weggee?”
“Ek sal nie die vleis kan eet nie, Thandeka,” sê hy en gooi ’n wildepruimstompie op die vuur. “As ek
nie gewis het Abel kán bees slag nie, sal ek gesê het dis ’n man wat nog nooit geslag het nie. Sny links en
regs, smaak of hy die bees wil opkerwe.”
Een vroegaand bring Abel ’n sakkie nartjies. Samuel is nog by die melkery, besig met die sepperyter.
Abel sê sy pa is kerksraadsvergadering toe. Ek ruik brandewyn aan sy asem, en smeer roosterkoek met
nastergalkonfyt vir as sy maag straks leeg is.
“Abel,” vra ek, “wat druk op jou hart? En vir wat slaan jy die koei met die vuis?”
Hy dink té lank. “Dis die army en die bliksemse terroriste wat my in my moer in het. Viér jaar op die
Grens is nie vir sissies nie.”
Ek raak vandag nog siek op my maag oor wat ek als daardie aand aangehoor het. Army-goeters. Laters
is Samuel terug van die melkery. Hy vertel vir Samuel hy was ’n recce. Eers verstaan ek nie waffer soort
rekkie hy van praat nie, maar hy verduidelik dis die manne wat in die oorlog voor loop en pad skoonmaak
vir die ander army-manne.
“Ek spring met ’n valskerm uit ’n helikopter,” sê hy, “enige plek in die bosse. Dan moet ek spaai op
die terroriste, alles uitkyk en afluister. Bedags slaap ek sodat hulle my nie gewaar nie. Snags bekruip ek
hulle, en snags is my hardlooptyd. Want oor twee of drie weke, moet ek by my eie soldate uitkom met
nuus oor die terroriste se planne.”
Abel eet saam met my en Samuel van onse mielierys en safgestoofde skaaplewer.
“Ek het my baie kere bekak van vrees.” Hy kyk heen en weer tussen my en Samuel, ampers of hy wil
sién ons glo hom. “Baie recces bekak hulle van vrees. Dan trek ek my broek uit en hardloop kaal, want as
die slapstront aan my broek hard raak, skuur my beenwaaie en hakskene vol blase.”
“Abel, jy liég mos nou,” sê Samuel.
Abel los sy bord kos en sê hy gaan gou iets by die huis haal, hy kom nou. Wyl hy weg is, sit ek en
Samuel stom na mekaar en kyk by die vuur. Abel kom terug met die flits en ’n foto.
“Kyk,” sê hy en lig op die foto, “hoeveel terroriste het ons op een dag geskiet.”
My hart wil stop. ’n Hele bolling swart mense wat op ’n hoop gegooi is. Abel se soldaatmaters staan
met hulle regtervoete op die bolling, soos of hulle op die bolling wil trap. En langesaan die bondel staan
Abel met ’n dik boomstok wat hy in die lug hou, en bo-op die stok is ’n afgesnyde kop.
Ek kry nie die sawwe skaaplewer ingesluk nie.
“Hier,” en Abel haal ’n plastieke sakkie uit sy sak, “is die ore wat ons daardie dag afgesny het. Ons sê
vir hulle: Julle hét mos nie ore nie …”
“Jirretjie, Abel,” en Samuel skuiwe sy bord ook weg. “Dit lyk soos pruimedante. Is dit mens-ore?”
“Nee, nie mens-ore nie; terroris-ore. Dis my keepsakes. My ander keepsake is ’n R1-patroondoppie.”
Recces is amper soos dissipels, vertel hy. Net die taaistes en sterkstes en slimstes word uitgekies.
“Eendag, juis toe ek kaalgat is, sterf ek amper van die dors in die helse hitte. Ek soek ’n waterplek …”
Dis skoon of Abel uit homself uit verdwyn wyl hy vertel. Dofte in sy oë. Sy hande bewe. Toe hy nader
kom aan die rivierloop, sit daar ’n terroris in die middel van die droë bedding, besig om te grawe vir
syferwater. Die terroris wis nie hy word bekruip nie. Abel loop omtrents tot teenaan hom.
“Ek hou die geweerloop ’n duim van sy kop af. Moerskont, sis ek, vandag skiet ek jou fokken harsings
tot in die hel.”
“Abel,” Samuel se stem draai hoog, “moenie vir my sê jy’t hom …”
“Oorlog is nie cowboys en crooks nie. Een van ons se harsings sou gewaai het. Nie myne nie. Ek is ’n
recce, Samuel, en recces is recces omdát hulle nie bang is om die sneller te trek nie.” Hy trek die bord
lewer nader en eet asof hy nie ’n naarte het nie. “Hy wou nog pleit, toe skiet ek die boonste helfte van sy
kop weg. Ek het hom net daar op die rivierbedding laat lê en die patroondoppie gehou vir ’n keepsake. Sy
ore is ook in die sakkie …”
Lank ná Abel weg is, die ouman was al terug van die dorp af, sit ek nog buite. Ek onthou hoe Abel se
oë in die vuurlig geblink het toe hy sê van sy pa wat so trots is dat ’n recce die leisels vashou op
Kiepersolkloof.
Moet mens dan ’n man se bo-kop wegskiet en ’n sak ore hê om in tel te wees by jou papa?
Skade op skade.
En Gertruidatjie moes die rekening gebetaal het.
Die wasklontjie van die heuningkoek is soos gebreide klei in my mond.
Is kompleet of ek Abel nou nog lusernland langes sien aankom met die enemmel-emmer vol
heuningkoeke. “Hier’s winterheuning, Mama Thandeka,” hoor ek sy stem. “Effe wild, want die veld is
droog en die bye suig enige blom uit.”
Hy’t skeweskouer gestaan met die sware emmer, en daar’t ’n jammerte oor my gekom. Hy had ’n goeie
hart, al was daar baie kamers vol vrot velle daarbinne. Ons almal se harte het maar sulke vrot velle.
Is beterder dat hy afgesterf is, want al het hy gelewe tot by honderd jare, sou niks geverander het nie.
As mens droë ore en ’n patroondoppie bêre, wis jy nie die sterkte van jou eie gif nie. Met dié dat hy
Oorkant toe is, is daar vir Gertruida ’n kans dat die sneeu in haar hart sal smelt.
*
Haar keel is rou van die woede-uitbarsting.
Sy was nog nooit iemand vir skree en hard praat nie. Om te fluister, stom te speel, is een van haar
wentaktieke. Bly eenkant, hou jou dom. Dit bring die minste pyn.
In standerd vier stuur die onderwyser haar na die skoolsekretaresse toe met ’n klasregister. Sy hoor
die sekretaresse praat in die hoof se kantoor. Sy wag. En sien die pak koeverte met die skoolwapen op
die toonbank. Gryp, knyp tussen haar bene vas. Sit die klasregister neer en gee pad voor die sekretaresse
terugkom. Van toe af kon sy briewe wat huis toe gestuur word, oopmaak en lees. Skryf die inhoud oor,
sodat sy die moeilike woorde kan opsoek. Sit die brief in ’n gesteelde skoolkoevert en gee dit vir haar
ma.
Gertruida ondervind ’n probleem met verbale kommunikasie. Gertruida onttrek haar van sosiale
interaksie. Sy skyn onbewus te wees dat ’n respons van haar verwag word.
Gertruida reageer apaties op opdragte, en andersyds aggressief. Sy toon disrespek vir die bestaan van
grense. Gertruida dagdroom in die klas. Gertruida se spangees moet ontwikkel word; sy is onwillig om
deel te neem aan netbal. Haar Junie-eksamenuitslae is kommerwekkend. Sy moet onverwyld sielkundige
terapie ontvang, want vermoedelik ly sy aan aandaggebreksindroom.
Soms het sy geskrik oor hoe naby hulle aan die waarheid kom. Verdedig haar teen niemand nie; rol
haar stywer op. Krimpvarkie.
Laat hulle dink en raai wat hulle wil.
Die son het losgekom van die bergrant. Die telefoon lui en lui.
Sy moet ingaan, daar is dinge wat moet klaarkom. Maar nog één keer, voor sy ingaan, wil sy teruggaan
na die dag toe alles begin het. Dit in haar geheue deurblaai en herdink. Dalk onthou sy verkeerd? Dalk
maak sy regtig prentjies op soos Susarah altyd beweer het?
Dis raserig in Die Koffiekan. Braham skeur twee suikersakkies oop, gooi dit in haar tee. Sy keer toe hy
die melkpotjie optel.
“Skuus, ek het vergeet jy drink nie melk nie.”
“Braham, hoe leer mens om iets te vergeet?”
Hy roer sy koffie. “Mens vergeet nooit, Gertruida, die brein is ’n spons. Mens kan minder intens en
met langer tussenposes onthou, ja. Maar vergeet is onmoontlik.”
Die tyd toe sy by tannie Lyla weggekruip het, het die sielkundige ook so gesê. Partykeer wens sy sy het
liewer nooit na die sielkundige toe gegaan nie. Soms is dit beter om nié te verstaan nie. En tog, as sy kon
oorkies, sou sy weer gaan.
“Ek het soveel dinge vergeet. Hoe het my vyfde of tiende verjaarsdagkoek gelyk? Watter speelklere en
speelgoed het ek as kind …?”
“Dis selektiewe geheue. Ons almal ly daaraan, nie net jy nie.”
“Kan mens selektiewe geheueverlies ook hê?”
“Ja, dis ’n soort beskermingsmeganisme.”
“Teen wat?”
“Pyn. Skuldgevoelens. Verlies. Gruwelikhede. Die lys is eindeloos.”
“Is dit waarskynlik dat ’n mens mooi herinneringe sal verdraai om lelik te wees?”