Authors: Annelie Botes
aand vir Frieda in die melkkraal geskree, “omdat ek dônnerswil nooit grootgeword het nie! Ek is pateties,
Frieda, pateties!”
Vir haar mondigwording het haar pa ’n badkamer by haar kamer aangebou. Hy wou nie, maar sy het
hom gedwing. Elke teël en handdoek is wit. Wit seep. Wit badroom. Wit naelborsel. Wit toiletpapier. Wit
rugborsel. Wit spieëlraam. Wit linnekas waarin nét haar linne gebêre word. Haar eie wasmasjien en
tuimeldroër.
Hulle was maande lank haaks oor die badkamer. Hoekom moet hy geld spandeer as daar alreeds drie
badkamers én ’n gastetoilet in die huis is? Snags was hy soos ’n mal dier. Groenpers kneuskolle teen haar
binnebene. Haar kop was seer soos hy dit teen die muur stamp omdat sy nie wil doen wat hy sê nie. Dan
doen sy dit om vredesonthalwe, sodat hy kan loop.
Kopgee sou sy nié. Haar badkamer sou sy kry.
Op ’n oggend toe sy haar bed stroop, onthou sy hoe Doringrosie in die nag gehuil het van keelvolheid
vir die konserte wat sy vir Abel moet hou. Alles ter wille van ’n badkamer. Toe vat sy haar .22 en genoeg
patrone en loop weg. Berge toe. Om vir so lank moontlik in die kliphuis te bly en van turksvye en
swartbessies en uintjies te lewe.
Abel sou haar nie soek nie. Hy hét, toe sy jonger was. Nooit gekry nie. Want sy het geweet om op die
klippe te hou, en nooit ’n voetpad uit te trap nie. En die kliphuis was goed versteek, net ’n voorarm-breë
rotsspleet waardeur sy sywaarts moes inskuif. As hy loop en beeste soek, sal hy dit nooit gewaar nie,
tensy hy daarin vasloop. Maar dis te skuins vir die beeste om daar te wei.
In sub A het sy en Bamba afgekom op ’n oop kol tussen die taaibosse. Dikwels van die huis weggeloop
soontoe. As Bamba by haar was, het haar ma-hulle nie na haar gesoek nie. Haar ma het vir die
tennismense gesê sy is ’n veldkind, en dit help nie hulle raak paniekerig as sy verdwyn nie. Sy antwoord
in elk geval nie as hulle na haar roep nie, en as sy hulle sien aankom, kruip sy weg.
Sy het gespeel die oop kol tussen die taaibosse is haar huis. Naweke en vakansies het sy ligte klippe
aangedra en vertrekke plat op die grond gepak. Haar kombuis. Haar gang. Badkamer. Slaapkamer. Haar
ma se rol kombuistou en naaldwerkskêr gesteel om besemgoed te knip vir ’n huisbesem. Leë
blikkieskosblikke vol water getap. Bessies daarin gesit. Haar potte. Haar spens.
Sy was nie bang vir slange nie, want Bamba was by haar. Soms het sy in haar veldslaapkamer op ’n
bondel rooigras gelê, op haar kamma-bed, en na die wolkpatrone gekyk. Elke keer sien sy iets anders in
die wolke. ’n Kersvader, ’n koei se uier, ’n groot, wit pampoen. Dis lekker om na prentjies in die wolke
te soek.
Soms verander sy die taaiboshuis in ’n skool. Dan is sy klaskaptein en niemand sê sy stink nie. Of sy
speel sy is tafelhoof by die koshuis en mag self besluit wat sy wil eet. Of sy speel boer-boer, en bank-
bank. Dan is sy die ryk boer. Sy koop ’n treinkaartjie en ry na Tannie Lyla toe in Oos-Londen, en koop vir
haar ’n dubbelverdiepinghuis naby Tannie Lyla. Sy bly vir altyd en altyd in Oos-Londen, by die see.
Soms het sy ander name uit G E R T R U I D A gebou. Trudie. Rita. Tertia. Ria. Ida. Dan is sy nie sy
nie. Almal hou van haar. Partykeer is sy Gert of Rudie of Gerrie of Dieter of Gerrit of Gerard. Dis beter
om ’n seuntjie sonder ’n pietermuis te wees.
Eendag in sub A, toe sy Gert was, begin sy ’n turksvyplaas maak rondom haar kammahuis. Teken
grensdrade met ’n stok. Trek haar rok uit, want seuns dra nie rokke nie. Sy is nie kaal nie, net kaalbolyf.
Draai haar rok om haar hand, pluk turksvyblaaie af. Lê hulle plat op die grond neer, al met die grensdraad
langs, sit ’n klip op elke blaai.
Sy het haar rok geskud en lank sit en dorings afhaal voor sy dit weer kon aantrek. Van toe af het sy
ekstra klere in ’n miershoop weggesteek. Kortbroeke, T-hemde en tekkies vir wanneer sy Dieter of Gert
is. Pak die bek van die miershoop toe met droë bosse. Dis haar hangkas.
“Hoekom is daar so baie turksvybome rondom jou huis, OuPieta?” het sy lank terug vir OuPieta in die
hoenderhok gevra.
“Ek het hulle jare t’rug geplant, Nooitjie. Vir skadu teen die huismure, en om die wind weg te keer. En
dan hoef ek nie in turksvytyd veld toe te loop nie.”
“My ma sê mens raak verstop as jy meer as vyf turksvye eet.”
“Nee, wat, Nooitjie. Is sommer ’n uitgedinkte storie. Pietertjie eet ’n halfemmer op een slag. Mens
moet net kortkort bietjie water tussenin drink.”
“Waar’t jy saad gekry, OuPieta?”
“Nooitjie, dit kom nie van saad af nie. Jy pluk van die ou blaaie af en lê hulle plat neer. Dan sit jy ’n
klip op sodat die blaai styf teen die grond lê om wortel te skiet.”
“Die Here gaan jou straf oor jy jok, OuPieta.”
Hy het die veertjies van ’n eier staan en aftrek. “Kyk, Nooitjie, waar die dorinkies op die blaai sit,
gaan die wortels uitkom as dit reent. Latertyd krul die blaai glads rondom die klip soos hy boontoe groei
om ’n stam te maak. Dan wag jy so vier of vyf jare tot die boom sterk is, dan sal hy beginte turksvye
maak.”
“Sê jy sweer voor die Here.”
“Mens sweer nie oor sulke goeters nie, Nooitjie.”
Amper vyf jaar lank was haar taaiboshuis die veiligste plek op Kiepersolkloof.
In die wintervakansie van standerd twee het Abel haar agtervolg.
Die turksvybome by haar kamma-huis het al tot by haar naeltjie gegroei, en die eerste geel blommetjies
was oop. Sy wou vir Tertia en Ida iets gaan vertel. Net hulle twee weet wat haar pa met haar doen. Die
vorige nag was hy briesend omdat sy gebyt het toe sy moes suig. En sy wou nie kyk in die boek met kaal
vrouens nie, want hulle sit oopbene, Abel het haar ore vasgevat en haar gesig teen die boek gedruk.
“Ek wíl nie kyk nie!” gil sy. Dalk hoor haar ma.
Hy dwing haar kakebeen oop. Druk die visding in haar keel af en sê sy moet sluk.
Die volgende dag sit sy kruisbeen op haar rooigrasbed, besig om vir Tertia en Ida te vertel dat sy vir
haar juffrou én die dominee én die polisie gaan sê. Haar keel is rou, haar stem is krakerig. Bamba gee ’n
tjankie; sy kyk op en sien Abel op háár turksvyplaas staan. Voor sy kan weghardloop, kom hy deur haar
spens gestap; skop haar waterblikkies om. Sleep haar huis toe. Haar hande was die ene skaafmerke soos
sy aan die bosse geklou het, maar hy was te sterk vir haar.
Mama Thandeka het samboksalf aan haar hande gesmeer.
Twee dae later, toe sy die toiletpapier vol bloed vir Tertia en Ida wil wýs, sodat hulle nie dink sy jok
nie, is haar huis weg. Alles. Blikkies, klippe, rooigrasbed. Taaibosse uitgekap. Nie een turksvyboom oor
nie. Al haar maats het weggehardloop.
Die res van die vakansie was sleg. Haar ma het elke dag met kopseer op die bed gelê. Kort-kort
opgespring en toilet toe gegaan. Aardige borrelklanke, sy was bly daar is nooit ’n kuiermaatjie wat hoor
nie. As straf het Abel haar snags kaal in die maanlig voor die venster laat staan. Oor ’n simpel tang en
kapmes wat hy by haar kamma-huis gekry het.
Later het sy nie geweet of sy Gouelokkies of Doringrosie is nie. En of Gertruida nog bestaan nie.
Ida en Tertia en Gert en al die ander kinders het nooit weer teruggekom nie.
Kort daarna is Abel oorsee en het hy die Victorinox vir haar gebring.
Einde van daardie jaar, in die Kersvakansie, het sy ’n nuwe huisplek ontdek.
Bamba het ’n bergkonyn gejaag, sy agterna. Hoër en hoër teen die skuins bergrant op. Tot op ’n plek
waar sy nog nooit was nie. Waar die beboste suidhang besaai lê met klippe, asof daar lank gelede ’n
rotsstorting was, is Bamba en die bergkonyn tussen twee hoë klippe deur. Tussen die twee klippe was ’n
breë spleet waar sy kon deurkom. Agter die yslike klippe was net die skuins, beboste bergrant.
Later kon sy nie onthou of Bamba die bergkonyn gevang het nie, want sy het gaan staan en besef dis ’n
goeie plek vir ’n nuwe huis. Nie ’n plat kliphuis nie; ’n hoë een. Al soek Abel hom dood, solank sy nie
agterlosig is nie, sal hy haar nie kry nie.
As sy stokke en riete sny en las, en van die bokant van die klippe af tot teen die bergrant neerlê soos ’n
rietdak, kan sy ’n driehoekhuis agter die klippe maak. Oop kante toepak met klippe wat sy met modder
vasmessel, sodat haar huis warm is.
Dit was jare se werk, met gereedskap wat sy uit Abel se waenhuis gevat het, om die huis gebou te kry.
Berg uithol, dieper en dieper. Turfklei brei om die stokke en riete dig te dek. Nog klippe aandra en
vasmessel vir kantmure. Vloer pak met perskepitte. Bou ’n sonwyster soos die standerddrie-meneer hulle
gewys het. Leer die ompaaie, trapklippe en gruiskolle soontoe ken, sodat sy nie ’n spoor uittrap nie.
Jare lank het hy haar wegkruipplek gesoek. Nooit gekry nie.
Sy het besluit om, solank as wat Abel teëgestribbel het oor die badkamer, daar te gaan wegkruip met haar
.22, tót sy haar sin kry. ’n Keer of twee kan sy in die donker afgaan tot by Mabel om te hoor wat word by
die huis gesê.
Toe Abel gaan soutlek uitsit, en Susarah weg is leeskring toe, het sy padgegee. Sonder kos. Sy wóú
doodgaan in die kliphuis. Heelpad soontoe het sy na Bamba verlang. Die veld was eensaam sonder hom.
Niemand om haar te waarsku teen ’n pofadder nie.
Probeer wegdink van Bamba af. Vergeet hóé hy dood is; watter aandeel sy daaraan gehad het. Hy was
oud en hy het gely. Sy het geen keuse gehad nie.
Daar was ’n pakkie meel, suiker, boeliebief en ’n blik perskes in die kliphuis. Die meel was vol miet
en die suiker kliphard. As mens paddaboudjies en varkharsings kan eet, kan jy miet ook eet. Die
suikerklont draai jy in jou hemp toe en kap dit met ’n klip fyn.
Dit was Januarie. Volop veldkos. Ghoenas. Besemtrosvye. Notsungbessies. Tarentaaleiers. Uintjies.
Tee maak met olienhoutblare. Oral rondom die kliphuis het die turksvybome wat sy op laerskool daar
geplant het, dik gedra. Sy het Abel steeds gehaat omdat hy haar kamma-huis en haar turksvyplaas vernietig
het.
Toe die vleishonger haar oorval, wag sy tot Abel-hulle in die kerk is, en skiet ’n fisant. ’n Week later
’n dassie. Om die wildheid uit die vleis te kry, sit sy veldknoffel en kerriebos by. Steeds wild. Om die
badkamer te kry, moes sy uithou. Sy het suinig geëet, want die gasstofie waarmee Abel sy veldkoffie
maak, en wat sy in standerd vyf uit die waenhuis gesteel het, was leeg. Sy kon net vuurmaak as die wind
reg trek. Anders trek die vleisreuk opstal toe. As die wind draai, moet sy dit toegooi. Netnou loop Abel
agter die vleisreuk aan. Sy mag níks doen wat hom kliphuis toe kan lei nie. Hy mag nie weet wat sy alles
soontoe aangedra het nie. Blikoopmaker. Aluminium-keteltjie. Pot en pan. Waterkan. Byl. Graaf. Pik.
Hamer. Driepootstaander. Draadhaak om turksvye af te trek.
Een Saterdagoggend, voor sonop, het Mabel kliphuis toe gekom.
Sy het geweet iemand is op pad. Sy sou haar nie onverhoeds laat betrap nie.
Waar die mees begaanbare voetpaadjie kliphuis toe begin, het sy ’n vislyn oor die pad gespan.
Borshoogte. Een punt geknoop aan ’n karsiebos; aan die oorkant vasgebind rondom ’n verfblik vol
ysterklippers wat sy in ’n mik van ’n suurbessie staangemaak het. Pak ’n stapel ysterklippe onder die blik,
sodat dit ’n geraas kan maak wat sy tot ver kan hoor. Net ’n koedoe of ’n mens kon die vislyn tref en die
verfblik laat afval.
Sy het haar besimpeld geskrik toe die verfblik val.
Toe is dit Mabel.
Mabel is al mens wat weet waar is die kliphuis. Toe sy in standerd nege swanger geraak en weggeloop
het na Tannie Lyla toe, moes sy Mabel vertrou. Daar is wegsteekgoed in die kliphuis waarvan Mabel
moes weet.
Mabel het kom sê sy het gehoor die boumateriaal en die bouers daag Maandag op. Sy moet aanstaltes
maak huis se kant toe.
“Ek is al amper ’n maand hier, Mabel. Hoekom het jy nooit vir my kos gebring nie? Jy’t geweet ek …”
“As ek vir jou kos bring, gee ek my konsente vir hierdie blyery in ’n kliphuis. Die dag gaan kom dat ’n
pofadder jou pik. Dan lê jy ses voet diep en ék moet bontstaan voor die Here, oor kos wat ek aangedra
het.”
Maandagoggend het sy ’n trok hoor dreun. Afgesluip tot duskant die rivier en deur die riete die bouers
op die werf dopgehou.
Die middag is sy huis toe. Die eerste geluid wat sy hoor toe sy instap, was Susarah se maag wat werk.
Niemand was bly om haar te sien nie. Niemand het haar uitgetrap nie. Dit was asof sy nooit weg was
nie.
“Dis maar Gertruida se nukke,” kon sy haar ma al by voorbaat by die tennis hoor sê. “Gelukkig ken sy
die veld en dra die .22 saam. Eintlik moet ons weer vir haar ’n Jack Russell kry, maar met Bamba se
dood was sy erg getraumatiseer. Abel wil ’n boerboel kry vir die werf, maar die wetsvereistes …”
Sy was dankbaar oor die wet. Want Abel het gesê die boerboel gaan snags in háár kamer slaap, en wát
hy die hond sal leer om met haar te doen. Afstootlik. Daarom was sy op ’n vreemde manier verlig toe ’n
boer in die distrik ’n stuk van sy grond moes verkoop om skade te betaal aan ’n inbreker wat deur sy
boerboel verskeur is. Die wet sê die hond moet beheer word. Die boer sê die inbreker het wederregtelik
oor die draad geklim. Die hof sê die hond was nie vasgemaak of onder beheer nie, dus was die boer
nalatig. Hy moet betaal vir weke in intensiewe sorg, veloorplantings, toekomstige medikasie, krukke,
berading, vergoed vir inkomste wat die verlamde inbreker, ná rehabilitasie, nooit sal kan verdien nie.
Abel was een van dié wat bygedra het om die boer te help met regskoste. Van toe af het hy nie weer
van ’n boerboel vir die werf gepraat nie.