Authors: Annelie Botes
loop. Hulle byt haar nie; sy voel net die kielie van hulle pootjies. Sy bewe sonder om koud te kry.
“… die mammabeer se bed was te sag …”
Haar pa het seker die skroewedraaier in sy broeksak vergeet, want hy wikkel die handvatsel teen haar
heup. Dis seer. Haar pietermuis brand; dis anders as gewone brand.
Hy vryf vinnig, al in die rondte.
“… die pappabeer grom vir Gouelokkies: jou stoute dogtertjie, wat soek jy …”
Die skroewedraaier stamp teen haar heup. Haar blaas ruk op ’n bondel en haar bene skop reguit. Dit
voel of sy deur haar voetsole pie.
“Fluit-fluit, my storie is uit …”
Agterna kon sy nie onthou hoe sy onder die duvet gekom het, en of hy haar naggesoen het nie. Want sy
was lam van moegheid.
Van toe af hardloop Gouelokkies nog onophoudelik deur die donker bos.
Rigtingloos. Kofferloos. Skoenloos.
’n Vermoeiende reis. Een ligpuntjie van die reis is dat sy klein was. En nie besef het Abel is groot nie.
En iewers in Abel se grootmensverstand het hy vergeet sy is klein.
Sy druk die kiaatdeur oop, stap gangaf kombuis toe. Op die tafel lê ’n kruidenierslys en pen. Filodeeg.
Kruisementjellie. Karwysaad. Rogbrood. Kersietamaties. Bloukaas.
Susarah het dit seker uit verjaagdheid vergeet. Ou ding van Abel om Sondagoggende voor kerk beneuk
en bars te wees.
Aan die punt van die tafel staan ’n halwe beker geskifte koffie; bo-op dryf ’n mot. Abel se
sandkleurige beker. Sy was nog in die laerskool toe sy dit by die pottebakker op die dorp bestel het vir sy
verjaarsdag.
Umfama, baas van die plaas
, staan in donkerblou sierletters daarop geskryf.
Waarom mag niemand uit sy beker drink nie? Waarom het hy gesê as sy umfama-beker breek, sal sy
hart ook breek? Waarom het hy op ’n ander keer voor die kuiermense gesê háár beker drink die lekkerste,
want die oor is groot genoeg vir twee vingers? Het hy haar op twee maniere liefgehad? Het hy haar
hoegenaamd liefgehad?
Om te dink, sy laaste beker koffie het hy nie klaar gedrink nie. Boonop het die umfama nooit by die
Nagmaal uitgekom nie.
Sy trek ’n stoel uit; sit en staar na die mot. Waarom moet sý die skifsel skoonmaak? Is sy ook ’n mot
wat in sy skifsel versuip het? Die letters van haar volle name spring uit die motvlerke tot in haar kop. Sy
trek die kruidenierslys en pen nader, skryf op die agterkant.
Mens moet jou ouers eer. Hoekom moet ’n kind haar ouers eer, maar haar ouers eer haar nie? Die
ruiter se naam is Kaïn. Hoekom moet ék dra aan Adam se sondes?
Hou op. Hou op.
Frommel die papier op, druk dit bo-op die mot in die koffie. Die koffie spat op die tafel. Vee haar
vingers aan haar oorpakbroek af, vat die beker en loop stoep toe. Skiet die koffie en die mot en die papier
uit op die donkerpers klokke van Susarah se foksiaplant. Kap die beker stukkend teen die rand van die
stoepmuur en gooi die oor, waardeur Abel twee vingers kon steek, langs die vernielde hen-en-kuiken.
Terug in die kombuis kyk sy op die rooi horlosie bokant die yskas. Dis twintig oor agt. Waar moet sy
begin? Sommer in die rooi-wit-en-groen kombuis.
Susarah was die eerste vrou in die distrik wat ’n kombuis met marmeroppervlakke gekry het. Wit marmer.
Van gordyne tot tafelmatjies tot ’n soplepelsteel, is rooi, wit of groen.
Eendag, sy was nog in die speelskooltjie by Tannie Martie, en Anthonie het nog gelewe, sit sy en kyk
hoe prik haar ma waatlemoenskille vir kompetisie-konfyt, en sy vra die raaisel wat sy by Anthonie geleer
het.
So groen soos gras, soos wit soos was, so rooi soos bloed, so suikersoet.
“Ek dink ek weet … Dis ’n waatlemoen!”
“Issie, dis ’n waatlemoenkombuis!”
Laggend knyp haar ma haar wang en maak of sy haar met die priknaald wil steek. “Ek sê jou wat, kom
ons noem dit ’n waatlemoenkombuis. Want nou lyk dit vir Mamma ook na ’n waatlemoen.”
Ná Anthonie dood is, het haar ma heeldag op die bed lê en huil. Toe wil sy haar ma laat ophou huil, en
sy gaan lê by haar ma en vra dieselfde raaisel weer.
“Ek is nie lus vir raaisels nie,” sê haar ma toeneus, “dis ’n waatlemoen, of ’n waatlemoenkombuis.”
“Issie, dis die dood! Raai hoekom?”
Haar ma snuif. “Ag, Gertruida, gaan speel, my kop is seer.”
“Dis omdat Anthonie ’n groen Springbokpet vir sy verjaarsdag gekry het, en sy vel was wit, en sy
bloed was rooi, en hy’s suikersoet by Jesus in die hemel.”
Sy kon nie dink hoekom haar ma so huil oor ’n speelspeel raaisel nie.
Die aand toe haar pa gaan melk, sê hy sy moet saamloop en haar rooi bekertjie bring, dan kan sy van
die lou melk kry. Dit was toe sy nog van melk gehou het en voor haar ma Kaapstad toe is vir die VLV-
kongres. Terwyl haar pa melk, sê hy sy moenie van Anthonie praat nie, dit maak haar ma hartseer. Eers as
Kersfees verby is, mag sy van Anthonie praat.
Van daardie dag af het sy opgehou om haar ma se huil te probeer stop, want sy het nie geweet hoe lank
voor dit Kersfees is nie, en sy was bang sy sê speel-speel iets van Anthonie wat haar ma nóg hartseerder
maak.
Voor sy in die kombuis begin, wil sy stort.
Dinsdag by die bergpoel kon sy haar nie skoon was nie. Die seepsplinter op die poelklip was klein;
die poelwater ysig.
Het Abel gestort voor kerk? Is iets van háár saam met hom graf toe? Hoe was die lykbesorgers ’n lyk?
Is dit waar dat die brein tydens ’n lykskouing uitgehaal word, en te groot opswel om teruggesit te word?
Gooi dit sommer in die maagholte, en begrawe jou met ’n leë skedel?
Is Abel en Susarah breinloos hel toe?
Sy wíl nie aan sulke bisarre goed dink nie.
Sy stoot haar kamerdeur stadig oop, asof sy bang is Abel sit op die bed. En waar sy in die deur staan,
slaan die stank van braaksel teen haar vas.
Die Saterdag voor hulle dood was daar nie tennis nie. Die tennisklub het ’n ligawedstryd op ’n
buurdorp gespeel, en op ligadae rus Kiepersolkloof se bane en Susarah se oonde. Voor middagete het
Abel die brandewyn uitgehaal. Ervaring het haar geleer hier kom ’n dag en nag uit die hellepoorte. Nie
net vir haar nie, vir haar ma ook.
Op brandewyndae was Susarah nie vir haar Susarah nie, dan was dit haar ma. Net so jammer as wat sy
haar ma kry as Abel haar in sy dronkenskap verneder, so trots was sy soms op haar ma. As hy dronk is, is
ál tyd wanneer haar ma opstaan teen hom. Dis nie asof hy gereeld dronk was nie. Haar ma het min kanse
tot vergelding gehad.
Saterdag aan die middagetetafel het die brandewyn ingeskop en hy het die geveg afgeskop. Eers oor
hoe hy moederloos grootgeword het en sy lewe lank ’n godskreiende behoefte aan liefde beleef. Verskuif
na Oupa Strydom. Hoe trots sy pa was dat sy seun ’n recce is. Hoe Susarah sy pa van die plaas
weggewerk en in ’n ouetehuis op Hermanus laat doodgaan het. Hoedat sy gedurigdeur ’n wig tussen hulle
ingedryf het.
Hy het met sy meshef op die tafel gekap. “Jy, Susarah, jy is die een wat my pa …”
“Nee, Abel, dis jy wat sy plek in die ouetehuis bespreek het. J´ý’t jou kop daarop gesit dat hy weer
sou trou! J y’t hom soontoe karwei, nie ek nie!”
“Dit lieg jy, Susarah …”
“As jy hom so graag hier wou hê, hoekom is hy weg?”
“Dis omdat jy alewig gekerm het oor die pispot in sy kamer en oor sy vieslike tafelmaniere …”
Koffietyd het haar ma begin verwyte slinger oor Anthonie se dood.
Sy het op haar bed sit en lees, onbetrokke, want sy ken elke nuanse van elke geveg. Teen sewe-uur het
Abel die halfmaantafel in die gang omgeloop. Familiebybel, besoekersboek en die portret van Oupa
Strydom dawer op die plankvloer. Hy tel dit op en slof verby haar kamerdeur met die portret teen sy bors
vasgedruk. Grommel iets van geswelde voete en ópgewerk wees vir sy ondankbare familie.
“Kom sit op die Morrisstoel in die kombuis,” sê haar ma oorsoet, “dan masseer ek jou voete. Jy
verdien dit. Waar sou ons vandag gewees het sonder jou?”
Wanneer haar ma sulke bisarre dinge met hom aanvang, het sy geglo haar ma kan ook uit haarself
weggaan en iemand anders word. Dalk verander sy in Hansie en Grietjie se heks, of die wolf wat die
sewe bokkies opvreet.
Sy is kombuis toe vir koffie. Abel het driekwart aan die slaap op die Morrisstoel gesitlê; portret op sy
bors; voete op ’n ou handdoek. Haar ma het op die kombuisvloer gesit met plastiekhandskoene aan, ’n
wattebol tussen haar vingers, besig om sy voete met groen koekkleursel te smeer.
“Jy sal sien, Abel, groenamara sal die swelsel binne ’n uur laat sak.”
Toe draai haar ma die groen voete toe in lae koolblare, bind die blare vas met rooi bloemistelint. Abel
se kop het skeef gehang, sy lippe trillend soos hy snork. Sy en haar ma het na mekaar gekyk en ’n wyle
was hulle één in hulle weersin. Uit by die agterdeur om te lag. Skaars het hulle begin lag, of haar ma moes
toilet toe hardloop.
Stukkend, die intieme oomblik.
Op pad terug kamer toe het sy die halfmaantafel staangemaak en die Familiebybel en besoekersboek
teruggesit. Nie lank nie, hoor sy iets in die kombuis val. Oupa Strydom se portret. Die yskasdeur slaan
toe. Harde kapslag. Ysblokkies rinkel in die wasbak.
Gaan hy vannag nooit ophou drink nie?
Sy wil gelyktydig uitbars van lag én huil toe hy weer met die koolblaarskoene verby haar kamerdeur
slof. Broek afgesak. Hemp hang uit. Brandewynglas in een hand, Oupa Strydom se portret in die ander. En
wragtig, hy loop die halfmaantafeltjie wéér onderstebo. Klou aan die glas en portret, en val met sy gesig
op die geelhoutplankvloer.
Sy het haar kamerdeur toegemaak, sy wou dit nie sien nie. Want hy is haar pa.
En tog het sy hom gehaat. Want hy is Abel.
Kort ná die ganghorlosie middernag geslaan het, het haar deurknop gedraai.
Sleutellose kamer. Sleutellose Gertruida wat nog nooit die reg gehad het om te kies wat is goed vir
háár nie.
Hy het gesukkel met die deur, want sy het ’n skoenpunt onder die skreef ingedruk. Maar sy het geweet:
inkom sal hy inkom. Die koolblare het aan sy voete geflap. Hy was bedroewend dronk. Halfpad na haar
bed het hy oor die snippermandjie, wat sy opsetlik in die pad gesit het, gestruikel en op die plankvloer
neergedonder. Gekruip tot by haar bed.
“Vat aan my skouers en gee my ’n nagsoentjie.” Sy het haar gesig weggedraai van die drankwalm. “’n
Lange, met jou tong.” Sy skuif weg. “Ek sê: gee my ’n lang, nat …”
Sy kón nie. Die vuishou in haar ribbes het haar laat snak. Dáárvoor is hy nie te dronk nie. Nog ’n
vuishou. Bewend het sy na sy skouers getas; gewalgd vorentoe geleun.
Toe glip sy weg uit haarself en word ’n onskuldige dogtertjie wat met ’n goue bal in die woud speel.
Lank gelede was daar ’n koning met ’n beeldskone dogtertjie. Naby die kasteel was ’n groot woud. Onder
’n lindeboom in die woud was ’n put. Soms het die prinsessie op die rand van die put gesit met haar
geliefde goue bal. Sy het dit in die lug gegooi en gevang. Eendag vang sy per ongeluk mis. Dit bons op die
put se rand en rol in die water. Voor sy dit kan gryp …
Hoekom moet sy altyd sy belt losmaak?
… verdwyn dit onder die water. Sy begin bitterlik huil oor haar bal. Toe hoor sy iemand na haar roep.
“Wat is fout, Prinses? Ek kan jou tot onder in die put hoor huil.”
Sy mag nie huil nie. As sy huil, klap hy haar.
Sy kyk om en sien ’n padda se slymerige kop bo die water uitsteek. “Hou op huil,” sê hy, “ek sal jou help.
Wat sal jy my gee as ek jou goue bal terugbring?”
“Enigiets, liewe Padda! My pêrels en edelstene en my goue prinseskroon,” sê sy verheug.
Abel het dit reeds lank terug skaamteloos by haar gesteel.
“Ek wil niks daarvan hê nie,” sê hy. “Maar jy moet my liefhê en my metgesel wees. Ek wil saam met jou
uit jou goue bord eet en by jou in jou bed slaap. As jy dít belowe, bring ek jou goue bal terug.”
“Alte seker, Padda, ek belowe.”
Die padda duik tot op die bodem. Nie lank nie, toe verskyn hy met die goue bal in sy mond. Hy spoeg
dit tot op die gras. Die prinses is oorstelp. Sy tel haar geliefde bal op en hardloop terug kasteel toe.
Kiepersolkloof is haar kasteel. En haar put.
“Wag vir my!” kwaak die padda, “ek kan nie so vinnig hardloop soos jy nie!” Maar die prinsessie
hardloop weg.
Waarheen? Hoe lank nog?
Terwyl sy die volgende dag saam met die koning aan tafel sit, plons die padda by die kasteeltrappe op.
Hy klop aan die deur en roep: “Prinses, maak oop, ek wil inkom!”
Die prinsessie maak die deur oop, en daar sit die padda. Doodbang hardloop sy terug na die tafel. Die
koning sien haar angs en vra: “Waarvoor is jy bang, my kind? Is daar ’n reus by die deur wat jou wil
ontvoer?”
“Nee, Vader, dis ’n padda. Gister het ek met my goue bal by die put gespeel …”
Om te speel, het nooit vir haar die betekenis gehad wat dit vir ander kinders het nie. Die beste speletjie
wat sy ken, is om woorde en sinne te bou. Hoe meer sy bou, hoe langer bly sy iemand anders.
Terwyl sy vir die koning vertel van haar belofte, is daar weer ’n klop: “Dogter van die koning, onthou
jy wat jy my gister by die put belowe het?”
Die koning sê: “Jy moet áltyd jou beloftes hou. Laat die padda inkom.”
Op die koning se aandrang …
Sy wíl nie. Hy gryp haar kop en buig haar nek vooroor. Gebruik sy duim en middelvinger om haar kake
oop te dwing. Haar lippe raak vol slym.
“Skuif jou goue bord nader,” sê die padda, “sodat ons saam kan eet.”
Die kos steek in die prinsessie se keel vas. Dit voel soos ’n olierige aartappel wat op en af gly in haar
keel. Sy raak naar, maar die naarsel sit vas agter die aartappel. Toe die padda versadig is, sê hy: “Tel my