Authors: Annelie Botes
nie. Niemand klop om in jou kamer in te kom nie, en jy mag nie ’n sleutel hê nie. Dis anders as by die
koshuis waar mens moet klop voor jy by iemand se kamer ingaan, en waar mens ’n sleutel móét hê om jou
studiekassie in die studiesaal te sluit.
Jou pa sê jy mag nie ’n sleutel vir jou kamer hê nie. Al sê jou ma dat jou pa die beste weet, weet jy dis
’n jok. En jou pa jok ook, maar jy mag nie vir grootmense sê hulle jok nie.
“Eina!” skree jy in die matras.
Skree help niks. Niemand hoor nie.
Jy verander in Doringrosie wat honderd jaar slaap. In jou verbeelding kan niemand by jou kom nie,
want die kasteel is oorgroei van rankrose vol dorings. Jy is nie Gertruida Strydom nie; jy is ’n slapende
prinses op ’n verebed. In jou slaap, al slaap jy nie, maak jy ’n prentjie van die prins wat deur die
roosdorings breek om jou wakker te soen.
Toe Braham Fourie in haar standerdagtjaar as Afrikaansonderwyser by die skool begin, het hy nie soos ’n
prins gelyk nie.
Later vergeet mens die tien minute se knie sit. Hoe jou kortbroek se rek in jou maagvel insny soos dit van
agter verrek word. Kneukels wat teen jou stuitjie boor as hy sy hand inwurm. Jy hoor nie meer die gehyg
agter jou rug nie. Voel nie die rukbewegings en die laaste stamp-stamp teen jou rug nie. Jy skuur die
slymstreep aan die agterkant van jou kortbroek teen die stoepmuur af. Gaan sit met Lulu by die rivier; hou
haar teen jou bors. “Thula Thula Thula baba Thula sana”, sing jy die liedjie wat Mama Thandeka jou
geleer het.
Tien minute is kort.
Jou Victorinox hou vir altyd.
Eendag as jy in ’n bobbejaan verander wat in die berge bly, sonder deure of mure, gaan jy jou knipmes
saamneem. Jou Switserse army-mes waarmee jy kan turksvye skil in die veld, ’n ystervark afslag as jy
naar is van honger. Skroewedraaier, botteloopmaker, balpuntpennetjie, tandestokkie. Knyptangetjie vir
dorings uittrek. Liniaaltjie en kompas vir rigting hou as die mis oor die berg kom en jy skaars ’n halwe
tree voor jou kan sien. Op die punt van die liniaaltjie sit ’n vergrootglasie vir vuurmaak as jou
vuurhoutjies nat of op is. Pinkiegrootte-flitsie om in die nag in Bamba se oë te lig om te kyk of hy dood is.
Haar pá het die mes vir haar gebring en gegee. Met liefde.
Abel het haar gewys hoe die mes werk terwyl sy op sy knie sit. Ook met liefde.
Daar is ’n kloofbreë verskil tussen haar pa en Abel.
En die liefde is iets wat sy nog nooit kon verstaan nie.
Die nooienshaarvaring in Die Koffiekan is getuie dat sy vir Braham gesê het: “Ek het geen idee hoe om
ooit vir jou goed te wees nie. Want ek weet nie wat goedheid is nie.”
Haar maag gor. Sy het gisteroggend laas geëet toe Mama Thandeka ’n erdebak mielierys en
kerrieaartappels en hoenderlewertjies saam met Mabel gestuur het. Mabel wou kom huis skoonmaak en
wasgoed doen. Toe stuur sy Mabel huis toe.
“Hier’s niks om te doen nie, Mabel. Gaan liewer …”
“Wat van die wasgoeters? Daar’s ’n bolling lakens, ek het laastere Woensdag die kooiens skoon
oorgetrek.”
“Mabel, as die begrafnis môre verby is, gaan ek die lakens verbrand.”
“Vaderland, Gertruida, is goeie lakengoeters! Jy kan dit nie wil staan en verbrand nie! Dan vat ek en
Mama dit eerder.”
“Ek sal vir julle nuwes koop. Ek wil nie hulle beddegoed op Kiepersolkloof hê nie. Loop nou, en gaan
was en vleg jou ma se hare. Jy wou dit Sondag al doen; toe raak alles deurmekaar met die polisie …”
“Laat ek dan net die stoep vee en die melkdoeke uitspoel, en …”
“Hier’s nie vuil melkdoeke nie. Loop nou, ek wil ’n kennisgewingbord maak vir die werfhek. Sê vir
jou ma ek sê dankie vir die kos.”
“Watse bord wil jy vir die werfhek maak?”
“Jy sal sien as ek dit opgesit het.”
Nadat Mabel weg is, het sy met haar vingers geëet. Water gedrink. Waenhuis toe om uit ’n
windpompvlerk se vin die bord te maak. Gee dit ’n laag groen tennisbaanverf. Verf met die wit
baanlynverf woorde op die groen agtergrond. Gebruik die wolbaalstensil vir egalige letters. Wie kon dink
Abel se tennisbaanverf sal eendag gebruik word om ’n verbod op toegang tot Kiepersolkloof te prakseer?
Nooit kon sy droom van ’n dag dat sý die wette sal mag neerlê, en met die tennisbaanverf mag mors soos
sý wil nie.
Die vreeslike belangrike tennisbaan.
Mens kom speel slegs op uitnodiging. Dit beteken jy is van die elite wat Saterdae sosiale tennis speel
op Kiepersolkloof, al kan jy net naastenby ’n raket vashou.
Kleintyd, voor sy haar Victorinox gekry het, het sy die balle opgetel wat die mense oor die draad
slaan. Dan sê hulle met ’n jammerkry-stem: Dankie, Gertruidatjie. Asof sy nie regtig in staat is om balle
op te tel nie.
Sy onthou die laaste dag toe sy vir die grootmense balle opgetel het. Sy het op die bank onder die
sederboom gewag vir ’n bal om oor die draad te vlieg. Andrea se ma, wat die landdros se vrou is en wat
altyd met die kerkbasaar by die tombola-tafel werk, het met skommeltieties net toe gestorm vir ’n
valhoutjie. Sy het teen die net vasgehardloop en soos ’n kussingsloop op ’n wasgoeddraad oor die
netband gehang. Voor sy kon regop kom, werk haar maag. Ligbruin water wat uit haar valletjiesbroek teen
haar bene afloop tot in haar kouse. Sy kon die borrelgeluide tot onder die sederboom hoor.
Toe begin sy lag. Sy het nog nooit iemand op ’n tennisbaan sien poef nie.
Die tannie het gehuil; iemand het ’n handdoek gebring. Toe sleep haar ma haar tot in die lapa en slaan
haar met ’n tekkie, omdat sy gelag het. Haar ma sê sy is ongemanierd en sy skaam haar. Sy trek haar ore
omdat sy Lulu wegsteek sodat Andrea nie met háár pop kan speel nie.
“Jy’s selfsugtig! Dis net ’n bleddie pop! Hoekom mag Andrea nie …?”
Dis nie ’n pop nie. Dis haar kind.
Dit was die laaste keer dat sy vir die grootmense balle opgetel het. Van toe af is sy en Bamba op
tennisdae veld toe. Bamba jaag alles wat roer. Veldrotte, dassies, tarentale, akkedisse. ’n Jack Russell is
dapper genoeg om ’n jakkals of ’n rooikat te skraap, en raak nooit hangtong soos ander honde nie. Mama
Thandeka sê Bamba beteken “vang”, en dis die naam wat Anthonie gekies het. Bamba was eers Anthonie
se hond. Toe Anthonie dood is, het sy hom geërf.
Bamba is verbied by die tennisbaan, want hy hardloop en blaf langs die draad. As hy nie daar mag
kom nie, bly sy ook daar weg.
In later tye het haar pa sy bes probeer om haar te leer tennis speel. Sy het haar dom gehou. Want sy
wóú nie tennis speel nie. Omdat sy nie met ’n kort tennisrok voor hom wou buk sodat hy haar kaal bene
sien nie.
Eers in standerd agt, toe Braham Fourie die skool se tennisafrigter word, het sy begin tennis speel.
Van die dag toe die tannie se maag op die baan gewerk het, was sy jammer vir Andrea. Haar oë het
altyd vol trane gelyk, en sy was vet. Sy het sommer vanself geweet Andrea se ma drink maagwerkpille,
nes haar ma. Partykeer sien sy ’n bottel in die badkamer se vullishouer. Dan lees sy op die bottel: Elke
tablet bevat: Bisakodiel 5,0 mg. Sy het nie geweet wat dit beteken nie. Maar sy het geweet dat sy sal weet
wanneer sy groter is. Soos wat sy ook eendag sal weet wat beteken al die grootmenswoorde wat sy in
haar kop bêre.
Dalk was haar ma bang haar maag werk op die baan, dié dat sy nie tennis speel nie. Vrydae maak sy
kos vir Saterdae se tennis. Peusel heeltyd. Fyngedrukte eier. Skilferdeeg. Salami. Beestong. Skilferdeeg.
Glanskersies. Sy drink net maagwerkpille, dan word sy nie vet nie. Behalwe om blokraaisels in te vul,
was kos maak Susarah se talent. Bloos as Abel spog met haar disse, en met die potyster-tuinstel wat sy
met ’n blokraai gewen het.
Abel was ’n knap tennisspeler. Rats, takties. Uitstekende netspeler, met sy lengte as voordeel. Boonop
was hy ’n galante gasheer, want hy drink nie Saterdae by die tennis nie. Sondae moet hy die voorsang in
die kerk lei, en hy sê hy kan nie met ’n babelaas in die Huis van die Here die leiding neem nie.
Sy voel siek as sy daaraan dink. Hoe kan één mens die voorsang in die kerk lei, én haar op sy knie laat
sit met die Victorinox? Hoe kan hy uit dieselfde keel ’n gesang sing, én agter haar skouerblaaie hyg soos
’n moeë hond?
Tog.
In haar laerskooljare, op dae as sy en Bamba nie veld toe is nie, of as sy vroeg huis toe kom, sit sy op
die stoepmuur en kyk hoe hy in die verte afslaan, blitsig inbeweeg net toe. Dan het sy hom lief. Sy weet
nie hoekom nie. Dalk omdat sy weet solank die mense daar is, is sy veilig. Hy lyk mooi in sy tennisklere.
Die wit daarvan is anders as die wit van sy vel. Party nagte as hy by haar kamer inkom, verbeel sy haar
hy het sy tennisklere aan; dat dit nie hý is wat voor haar bed staan nie.
Dan word sy Doringrosie.
Die prik van die spinwielnaald verdof.
Die bloeddruppel is weg.
Sy slaap in ’n paleis in ’n verste land, op witste lakens. Terwyl sy Doringrosie is, staan alles stil.
Selfs die koning en koningin verander in standbeelde. Die stoom uit die borde kos, die kaggelvlamme en
paleisgordyne is roerloos.
Sy slaap. Sy wag vir die prins om haar wakker te soen.
Honderd jaar is lank.
Vanoggend was die kennisgewingbord droog en sy het gate geboor vir opsit wanneer sy terugkom van die
begrafnis af. Van vandag af sal niemand ooit weer haar lyf besit, of kom bespied hoe sy op háár plaas
boer nie. Sý sal die slot sluit, en sý sal dit oopsluit.
TOEGANG VERBODE
OORTREDERS SAL VERVOLG WORD
Sy sit op die voetstuk van die watertenk. Sny ’n tamatie met haar Victorinox, maak die boeliebief oop.
Die telefoon lui weer. Sy wil met niemand praat nie. Allermins in die huis ingaan. Haar selfoon lê in die
bakkie met ’n pap battery. Dit traak haar nie.
Die wolke het oopgemaak en die flou laatmiddagson skyn pienk op die misvliese teen die berg. Ná sy
geëet het, moet sy gaan melk. Sy het gesê OuPieta hoef nie in die reënweer te kom melk nie.
Kan dit waar wees dat Abel en Susarah begrawe is?
Sy sit die kos terug in die winkelsak. Stap met ’n paar Mariebeskuitjies kraal toe om Frieda te melk.
Sy sal helfte van die melk in die deurgesnyde trekkerband gooi vir die hoenders, en die res vir Mama
Thandeka en Mabel neem. Daar hoef nie huismelk te wees nie; sy sit haar mond aan niks wat witterig en
natterig is nie. Melk, mieliepap, kaaskoek, witsous, room, melerige appels, jogurt, maaskaas. Eendag het
een van die tennistannies vir haar ma gesê Gertruida is sweerlik die enigste kind in die wêreld wat naar
raak van roomys. Toe lag haar ma en sê Gertruida is vol fiemies. Sy wóú sê daar is niks slegter as om ’n
draairoomys te lek nie. Bly eerder stil, want daar ís slegter goed. Die stank van ’n sardienstoebroodjie.
Om te kyk as haar pa die murg uit die Sondagboud se been suig. Rou eierwit. Om op ’n doplose slak te
trap en die slym laat haar tone aan mekaar vaskleef.
Die heel slegste iets kan sy vir niemand sê nie.
Dis beter om te swyg. Dan kom daar nie ’n dag waarop jy agter die nooiensvaring jou oë voor Braham
hoef te laat sak nie.
Frieda loei toe sy by die kraal instap met die melkemmer en -stoeltjie. Die aandlig kleur die wit vlekke
van haar Frieskoeivel ligpienk. “Ek het verlang, Frieda. Daar’s baie wat ek jou moet vertel.”
Sy kan nie met mense praat nie, net met koeie en paddas en met Bamba. Húlle sal haar nooit verraai
nie.
Toe sy klaar gemelk is en die emmer eenkant sit, stamp Frieda haar speels met die kop. Dit beteken sy
jeuk. Of dalk is dit Frieda se manier van nagsê.
Om naggesê en toegemaak te word, is iets wat sy nie ken nie. Tog onthou sy ’n tyd toe haar ma saans by
haar gelê het. Soms het Anthonie op die voetenent gesit in sy strepiespajamas. Dan lê sy in haar ma se arm
en kyk prentjies van pampoenkoetse en ’n skoen vol kinders terwyl haar ma lees.
Sy onthou die poeierreuk aan haar ma, en dat dit lekker was
om in haar arm te lê.
Dalk onthou sy verkeerd.
Is dit ’n illusie dat sy magteloos was teen Abel? Was magteloosheid ’n uitweg, of is sy geïndoktrineer
om te glo dat seks met jou pa normaal is? Vaagweg kan sy onthou dat sy kleintyd saam met hom gebad het,
dan stapel hy ’n toring badskuim op haar kop en hulle lag só hard dat haar ma kom kyk wat aangaan. Hy
was haar lyfie, oral, sonder dat dit verkeerd voel. Sy raak op sy skoot aan die slaap terwyl hy haar naels
skoonmaak met sy knipmes. Hy dra haar bed toe; soen haar nag. Sy slaap sonder nagmerries.
Soms het sy onder die olienhoutboom troue-troue gespeel. Dan trek sy haar ma se hoëhakskoene aan,
en haar pa is die kamma-kamma bruidegom. Sy sê sy gaan eendag met hom trou. Hy lag en gooi haar hoog
in die lug. Bring vir haar rooibessies en ryp ghoenas toe hy twee dae lank beeste soek in die berg.
Toe verongeluk Anthonie en haar ma gaan VLV-kongres toe in die Kaap, en alles word verkeerd. Sy
het gedink pa’s doen altyd net goed wat reg is, omdát hulle pa’s is. Snags as die deurknop draai, het sy
gedink alle pa’s maak só. Dat dit deel is van liefhê, soos optel en abba en bal speel.
Tog het sy nooit met ander dogtertjies daaroor gepraat nie.
Word mens gebore met die wete dat iets verkeerd is, al wéét jy nie?
Sy onthou Vrydag. Skrikkeljaar, 2008.
In haar kop skuif sy die blompotjie op die tafel in Die Koffiekan eenkant toe en steek haar hande na
Braham uit. Sy het Ouma Strydom se robynring uit die koekblik in die kliphuis gaan haal waar sy dit
wegsteek. Dis in haar hempsak. Dis skrikkeljaar, sê sy, sal jy met my trou? Duisend maal al het sy hom
hoor sê hulle moet nóú landdroskantoor toe gaan.