Authors: Annelie Botes
Ek huil op die biesiemat in my mama se ronde huis. Oor Samuel wat weggaan. Ek gaan nie winkel toe
nie.
Toe kom hy die Sondagagtermiddag al die pad na my toe.
“Thandeka, hoekom kom jy nie meer winkel toe nie?” vra hy. “Waaroor huil jy?”
Ek staan op en vat die wateremmer. “Laat ons gaan water haal by die rivier.”
Ek breek vir hom ’n riet af en sê hy moet vir hom ’n fluit maak, en as hy daarop blaas, moet hy my
onthou.
“Hoekom kom jy nie saam nie, Thandeka? Ons kan uit jou tata se huis uit trou. Daar’s genoeg geld in
my bankboek vir drie lobola-beeste … Dan gaan kyk jy saam met my wat lê oorkant die berge.”
Toe vat ek hom, oordat hy my wou gevat het. En oordat ek wou weet wat lê agter die berge.
Darem het ek een tjint gekry, van Abel. En nog al die jare kyk sy goed na my.
Die rooi kombers is warm oor my kniekoppe en onderbene. In die werweltjies van my rug, daar waar
my murg loop, sal dit nooit weer warm raak nie. Is koud in my hart. Want lank terug het Samuel afgesterf.
En nou is Abel afgesterf.
My bêretyd is aan’t nader kom. Abel het gesê as ek eendag gebêre word, sal dit op Kiepersolkloof
wees, langes Samuel. En hy sal ’n kopsteen laat opsit wat tot aan Samuel se kant loop. Dan sal hy my
naam en my jare op die kopstuk laat skrywe.
Thandeka Malgas.
Gebore 30 Maart 1935, tot die dag wat iNkosi my kom haal.
Abel was nog sterk. Ag-en-vyftig jare oud. Ek is vyftien jare ouer, ampers blind. Ek moes eerste
gegaan het.
Ek verstaan hoekom Gertruida hulle op die dorp gebegrawe het. Maar latertyd raak mens se kwaad
sagter, en jou spyt groter. Dan kan jy hulle nie loop uitgrawe en vars gate spit nie. Maar straks dra die
wind my asem tot by die dorp se begraafplaas, en hy hoor my as ek sê: laat dit goed gaan op die reis,
Abel …
Net ek, Thandeka Malgas, weet watse mens Abel rêrig was en hoe die dolosse vir hom geval het.
Ek en Samuel het ver gery met onse donkiekar. Hoedat ons die pad gery het tot op Kiepersolkloof, het
my ontgaan. Maar die donkies was moeg, en Samuel het gesê is tyd om tot ruste te kom en huis op te sit.
Daardie tyd was Abel maar so vyf jare oud. Mooie tjint. Was dit nie vir sy klere nie, moes mens goed
kyk of dit straks ’n meisietjint is. Ek het die kos gekook en vloere gevryf. Wasgoeters, strykgoeters.
Kooiens, ruite was, stoepe vee. Klompe ander werke wat Abel se mama my gegee het.
Sy was ’n goeie mens. Altyds gesê ek moet helfte van die hoendereiers vat voor die likkewaan dit
vreet. Mos ’n likkewaan se ding om hoenderhok toe te kom as hy die koei met sy blou-en-geel tong klaar
uitgesuip het. Maar sy’t gesê ek moenie vir die ouman sê nie. Oordat hy moeilik is. Hy was nie ’n ou man
in jare nie, maar sy hart was oud en swart. Tot vandag toe vat ek ’n eed met my vinger in die lug dat hy
slegte skrape op Abel agtergelos het.
Ek moes help ooghou oor die tjinners. Abel was die kleinste van die drie broertjies en ek het ’n
sawwe plek vir hom gehad. Op plekke vol duwweltjies het ek hom geabba, want sy voete was nog sag.
Toe seil daar ’n rinkhals in die huis in en pik sy mama waar sy in die kombuis met die skottel groenvye en
die priknaald gesit het. Maak nie saak hoe ons gesuig het om die gif uit te kry nie, voor sonsak daardie
aand het die rinkhalsgif haar laastere asem uitgedruk.
Is swaar om sonder ’n mama groot te raak.
Nóg swaarder as jou papa jou wegdruk. Dit kan ’n tjint se oë laat skeef draai, sodat hy die wêreld met
skeelte bekyk. Baie môrens het ek die nat matras gesleep tot agter die putlewwetrie waar die ouman nooit
kom nie. Want as hy sien, verander sy tong in ’n meslem, reg om te slag. Latertyd word die tjint ’n jong
man met wangbaard, en hy bewe voor sy papa. Die jong man word ’n uitgegroeide man met harde baard
in wie se kop als loop staan en skeef draai het.
As Gertruida weer hier kom, moet ek vir haar sê hoe ek en haar pa ooreengekom het, en vra of sy vir
die grafsteenmense sal sê om Samuel se naam en jare by sy kant van die kopsteen te skryf. By my kant
moet hulle skryf my naam beteken “goeie mens”.
Partykeers is ek goed.
Ander kere is ek sleg.
Partykeers is ek iewerster in die middel van goed en sleg.
My naam sê maklik, maar my van lê verkeerd op my tong. Malgas. Dit wil nie klap soos dié van my
tata nie. Noqobo. Maar dis hoe ek dit van Samuel gekry het en ek moet sy nagedagtenis eer.
Samuel en Anthonie het op dieselfde dag gesterf toe die bakkie oor die afgrond is. Anthonie was
daardie tyd tien jare oud. My bloed wil ys om te dink as Mabel nie loop fynhout optel het nie, sóú sy
saamgery het. Vandag trek sy by twee-en-dertig jare. iNkosi was my genadig. Hý sê waffer tjint moet gaan
en waffer een moet nog bly.
Daaroor het ek altyd sawens, toe ek nog in die donker kon sien, vir Missus Susarah onder die sterre
loop bid. Hoekom sy nie daar in die begintyd gekeer het toe sy sien die dinge loop lelik met Abel en
Gertruida nie, is seker omdat sy met blindheid geslaan was oor Anthonie. Want dat sy krom gebuig het
onder sy afsterwe, is nie altemits nie.
Maar een ding is nie altemits nie, en dit is dat Abel nooit ’n engel gehad het wat saam met hom kon
rondvlieg nie. iNkosi gee vir elkere mens ’n engel om Satan te help wegstamp. Al engel wat Abel gekry
het, was ek. Sy swart mama. Toe stamp m´y lyf hom latertye in ’n lelike ding in. En boop alles het Mabel
al die jare haar hart klipperig gemaak teen hom. Nóg bloed van sy bloed wat hom wegdruk. Moet swaar
gewees het, oordat Mabel heeldag in sy huis en op sy werf is. En iewerster vandaan soek hy ook na
liefde. Nes elkere mens.
“Jy moet dié goeters met Abel uitpraat, Mabel,” het ek baie aande voor die vuur vir haar gesê. “Sodat
dit kan gaan stillê in jou kop.”
“Los dit, Mama. ’n Huismeid stry nie met die baas nie.”
“Dis bitterte wat jou só laat praat, Mabel. Hy’t nog altyd vir ons …”
“As dit bitterte is, is dit oor wat hy aan Gertruida doen. Eendag as ek op die dorp is vir Mama se
pensioen, gaan ek poliesstasie toe loop en sê hulle moet kom kyk wat …”
“Hou jou neus uit by witmenssake, Mabel. Wit mense weet hoe om baadjies oor mekaar se koppe te
trek. Los die polieste uit.”
My murg is koud. My oumenshart wil uitmekaarbreek as ek dink Abel gaan nooit terugkom
Kiepersolkloof toe nie.
Ek gaan Mabel roep om ’n koppietjie melk warm te maak en sê sy moet die stoel omdraai sodat my
rugkant hitte kry. As my maag warm raak van die melk, moet sy my kooi toe help. Tot dan toe sal ek by
die vuur sit en vir Gertruida ’n lied sing. Want al is haar dunne lyf enige dag net so sterk soos ’n man s’n,
en al kan sy ’n fisant se oog van ver af uitskiet, het sy ook al die jare geskort aan ’n engel.
Abel sal wil gehad het ek moet vir haar sing. Want maak nie saak hoe verkeerd allester was nie, met sy
goeie kant hét hy haar liefgehad.
Thula baba, vala amehlo … Hush, my baby, close your eyes, time to fly to paradise, till the sunlight
brings you home, you must dream your dreams alone …
Donderdag, 28 Augustus 2008
◊◊◊
Haar hande is slaapdom toe sy die waenhuisdeur oopmaak. Sy kry die toiletpapier agter die bakkiesitplek
en stap om die waenhuishoek. Die dagbreek lê wolkloos, soos gerookte glas, bokant die swart
rugkromming van die berg. Die aarde ruik na varsgeploegde grond en kerriebos. Vandag gaan die son
skyn.
Haar grootste vooruitsig vir die dag is om nooit weer bang te wees nie.
Haar begrafnisklere is droog, maar verkreukel; die wit bloes is gevlek. Die klere wat sy sedert Sondag
gedra het en gister in die treurwilg gehang het, is vuil. Eerder in die oorpak bly, al ruik dit na terpentyn.
Voor sonop wil sy in die huis wees. Stort, hare was, skoon aantrek. Dan begin ontsmet. Vloerlyste,
vertrekhoekies. Gordyne, strooikussings. Linnekas, spens. Al neem dit tot Sondag. Abel en Susarah moet
aan niks vaskleef nie.
In die grys dagbreek stap sy rivier toe. Sak kruisbeen op die sand neer. Sit roerloos en angsloos by
haar rivierkerk. God is hiér. Nêrens anders nie. Laat die mense skinder soos hulle wil oor die
Kwakergeloof wat sy kwansuis aangeneem het. Sy is g’n Kwaker nie, sy sê maar net so. Dan is daar ’n
stel reëls wat háár eiendom is.
En haar afvalligheid van enigiets wat kerklik is, het Abel en Susarah hoofbrekens besorg. Eintlik het
álles omtrent haar álmal hoofbrekens besorg. Daar is altyd iemand wat kla sy konsentreer nie, is
belangeloos. Vitterig. Lui om te leer. Wil nie saamwerk nie. Steur haar nie aan reëls nie.
Selfs Matrone by die koshuis het beweer: Gertruida kyk my grinnikend uit die hoogte aan.
Die eerste klompie kere ná matriek toe sy en Braham in Die Koffiekan gesit het, was sy stilweg oorstelp,
sy kon beswaarlik ’n woord uitkry. Elke keer as sy hom “Meneer” noem, het hy haar “Mevrou” genoem.
“Vergeet dat ek jou meneer was. Sê my naam, ek wil hóór hoe sê jy dit …”
Sy vat die pen; begin agterop die rekeningstrokie woorde bou uit BRAHAM.
Ham. Maar. Haar. Ram.
Baar. Bahama. Bra. Braam. Bar. Abraham. Arm. Raam. Abba.
Toe skryf sy sy naam onderaan, skuif die
strokie na hom en sê hardop: “Braham.”
“Jy sê dit mooi. Ek wil gráág naby jou kom, Gertruida, maar jy dwaal op plekke waarvan net jý weet.
W.E.G. Louw skryf: ‘wanneer ek gryp, dan smelt jy weg, en staan ek weer met leë hande’. Ek wens ek
kon weet waarheen jy wegglip.”
“Soos dieselfde gedig sê: ek verander in ’n sneeukristal of wind of waterkringe. Snaaks dat jy juis
dáárdie digter aanhaal. Sy voorletters is W.E.G. Soos ek …”
“Iets ín jou is briljant-geniaal, Gertruida, maar jy misken dit. Hoekom?”
Sy knie raak aan hare. Skokprikke in haar onderlyf. Weg is die intieme oomblik. “Ek is eintlik dom.
Maar nie te dom om te weet ek soek na myself nie.” Trek die strokie nader. “Ek is baie mense, soos die
saamgestelde oog van ’n sprinkaan. Kyk,” en sy bou nog name uit GERTRUIDA.
Trudie. Griet. Rita. Rut.
Tia. Tertia. Gerda. Ria. Greta. Ida. Gertie. Reta.
“Ek probeer almal versmelt tot één Gertruida.”
“Wie, of wat, het jou so verniel, Gertruida? Jy’s ’n stukkende mens, en jy hóéf nie vir altyd stukkend
–”
Vat die motorsleutel. “Ek moet gaan. Dankie vir vanmiddag … Braham …”
Heelpad plaas toe het sy gewéét hy vermoed. Sy moet planne bedink om hom te mislei, sodat hy moet
glo hy vermoed verkeerd. As daar iemand is wat nooit moet weet hoe verrot sy is nie, is dit hy.
Die riviersand maak die oorpakbroek klam.
Ondanks die beknoptheid in die bakkie, is sy uitgeslaap. Om doodvas te slaap, gebeur net as Abel
vetveeveilings toe gaan, of ’n Bonsmara-bul gaan uitsoek, of as hy oorsee is. En as daar oorslaapgaste is.
Wanneer haar ma se tweelingsuster, Tannie Lyla, elke September vir twee weke kom kuier, is dit hemels.
Dan hou Abel hom heilig.
Van sy kan onthou, wag sy snags vir ’n toilet wat spoel, ’n vloerplank wat kraak, haar kamer se
deurknop wat draai. In die koshuis het sy ewe sleg geslaap, uit vrees vir die koue pie-kol en die
likkewaan. Al het sy ná aandstudie niks gedrink nie, en elke druppel uitgepers voor die ligte-uit-klok.
Later wou niemand haar kamermaat wees nie. Niemand wou ’n toebroodjie of ’n trossie druiwe met
haar deel nie. Met haar kryte inkleur of haar uitveër leen nie. Sit eenkant en kyk hoe speel die kinders
pouses aljander-so-deur-die-bos. Op skoolkonserte was sy ’n klip of ’n boom of ’n paddastoel.
Eenkant. Almal was naar vir haar.
Soggens het Matrone geraas oor die drié matrasse wat vir háár aangehou word. “Gaan badkamer toe,
Gertruida, dan was ons jou stêre en lieste en paddatjie.”
Paddatjies bly by die rivier op Kiepersolkloof. Hulle is slymerig en blaas op as hulle kwaad raak. As
hulle báie kwaad is, skei hulle ’n sieserige melksap af. Sy het ’n pietermuis; nié ’n paddatjie nie. “Ek wil
nie gewas word nie.”
“Gertruida! Gaan badkamer toe!”
“Ek sal myself was.”
“Gertruida, moenie dat ek my vanoggend vererg en …”
Sy het gehou van die tweegeveg. Immers kon sy haar teen Matrone verset. Skop, byt, vloek, vasgryp
aan die bed of deurkosyn of handdoekreling.
Teen Abel was sy magteloos, al het sy nie geweet hoekom nie.
As hý vryf, was dit anders as om ’n muskietbyt te krap. Toorkrag in sy vingers wat haar hart laat
trommel. Vinnig, al in die rondte, tot dit voel asof jy deur jou voetsole pie. Maar jy pie nie regtig nie.
Wanneer hy loop en die deur toe-trek, doef dit stadig in jou kop en kuiltjie. Jou keel is droog. Jy is te lam
om te roer.
In die oggend sien jy jy hét gepie, slymerig. Maar nie deur jou voetsole nie.
Omtrent van standerd vier af het Matrone tou opgegooi met soggens se tirade.
“Ek gee op met jou, Gertruida! Jy’s die ongehoorsaamste kind in die koshuis! Hoeveel keer moet ek
nog vir jou sê dis die warmwaterpype wat snags so raas?”
Kooipister. Stink Gertruida.
“En moenie na my kyk asof die kat my ingedra het nie! Ek gaan vir jou ma skryf hoe moeilik jy dit vir
my maak! Hóór jy my?”
Ignoreer haar en stap aan badkamer toe.
Op hoërskool, nadat Braham Fourie as Afrikaansonderwyser by die skool begin het, was sy soggens
lank voor die opstaanklok in die badkamer, voor die ander meisies inkom. Skuimbad. Dettolseep. Hare
was. Antiseptiese poeier. Lyfroom. Spierwit onderklere, skoolhemp, skoolkouse. Skoon skoolrok;
voetpoeier. Sy wou nie stink Gertruida wees nie. Sy wou vars ruik.
Vir Braham Fourie.
Sy was al klaar met skool, toe is haar bed steeds soggens nat. “Ek bepis myself elke nag!” het sy een