Authors: Annelie Botes
ek.”
“Hou julle maar Paasfees!” snou sy. “Júlle is mos God se bekeerde dissipels. As God se dissipel het
Pa seker die reg om my snags …”
Susarah verbleek. “Gertruida, jy laster …”
“Of tel dit nie as sonde as ’n pa sy dogter verkrag …?”
Toe klap Abel haar met sy handrug deur die gesig. “Jy’s kranksinnig, Gertruida! Beséf jy watter skade
en skande jy ons kan besorg met jou verdigsels?”
“Ma?” Die bloed bruis in haar ore. “Wanneer gaan Ma iets dóén? Of is Má tevrede met die dinge wat
in hierdie huis aangaan?”
“Wátter dinge, Gertruida? Al waarmee ek ongelukkig is, is die afgryslike stories wat jy opmaak. Mens
sou nie sê ek en jou pa offer soveel op vir jou …”
Draai om; loop weg. Moenie dink aan wat voorlê nie. Moenie in jou hart wens jy kon saamgaan kerk
toe en deel wees van God se genadeverbond nie. Werk eerder uit hoeveel wegloopgeld is in die koekblik.
Besluit wat jy uit die spens en waenhuis kan saamneem kliphuis toe. Maak sinne.
Gertruida treur. Gertruida tree agteruit. Gertruida dra die drag.
Terwyl hulle in die kerk sit, is sy rivier toe. Tel drie kolgansvere op. Trek ’n groot kruis in die sand.
Waar die lyne kruis, maak sy die drie vere staan.
Vader. Seun. Heilige Gees.
Sy sit op haar knieë by die voet van die sandkruis en huil. Omdat sy nie weet of God bestaan nie. En ás
Hy bestaan, waarom ignoreer Hy haar? Hy sê in die Bybel geen haar op jou hoof sal geskaad word nie.
Waarom word álles aan haar geskaad?
Nou lê die bondel begrafnisklere op die Christ’s thorn.
Dis asof God haar wanhoop uiteindelik raakgesien het.
Sy sleep die rooi wasgoedbad vol yskasgoed in die gang af. Die eerste ding wat sy uitgehaal het, was
die eiermandjie. Stoep toe. Gooi die eiers teen Ouma Strydom se spieëlkas. Mik vir die laai met Abel se
speelgoedjies. Elke eier wat teen die hout afdrel, word ’n Doringrosienag wat sy weggooi. Eendag sal al
die nagte vol pyn ongedaan wees. Sy sal onbesmet wees.
Dis ’n goedkoop lieg, sê sy hardop toe sy die bad oor die voordeurdrumpel stoot.
In die drie en ’n halwe maand toe sy by Tannie Lyla in Oos-Londen gebly het voor die baba gebore is, is
sy elke week sielkundige toe. Meer om Tannie Lyla se onthalwe as om haar eie. En al wou sy dit nie
erken nie, het die ure by die sielkundige haar tydelik verlos van vele knelteringe. Splintertjies begrip
gebring oor die pynhel waarin sy lewe.
Sy het van die vrou gehou; van haar spreekkamer met die roomkleurige banke en die perskegeel mure;
’n vistenk om na te staar as sy nie wou antwoord nie; die kalmte in die vrou se stem. Maar dwarsdeur
alles het sy skepties gebly, want sy was oortuig al doen jy tienduisend terapiesessies, al verslind jy elke
boek en artikel oor sieklike seks agter huise se geslote deure, al volg jy die gesondword-getuienis van
honderde slagoffers, al bid jy tot jou knieë skurf is – vergeet sal jy nooit. Die wantroue en angs is by jou
ingebed tot die einde van jou dae.
Jy kan klinies leer verstáán wat die verwrongendheid veroorsaak wat die monster dryf om jóú lewe te
verorber. Jy kan leer konsentreer, jou obsessies beperk en hanteer. Jy kan duisend maal oortuig word van
jou onaandadigheid en onskuld. Op die oppervlak kan ’n sielkundige jou help met antwoorde soek. Maar
vergeet en volkome héél word, by ’n punt aankom waar die aftakeling nie meer ’n faktor in jou lewe is
nie, is onmoontlik. Die slagoffers wat dít getuig, is besig met ’n wiegelied. Die sielkundige het nie só
gesê nie; sy het dit self beredeneer.
Miskien kan dit sagter word. Verder terugskuif in jou geheue. Vervang word deur omstandighede van
geborgenheid en respekwaardigheid.
Tannie Lyla het die terapiesessies gereël en betaal. Op voorwaarde haar ma-hulle moenie daarvan weet
nie.
“Hoekom nie?”
“Gertruida, jou pa-hulle sal énigiets doen om te verhoed dat jy praat. As hulle weet jy gaan vir terapie,
sál hulle jou hier wegneem, uit vrees dat jy vir die sielkundige die waarheid vertel. Onthou, solank jy
swyg, is hulle veilig.”
Dit was steeds vir haar ’n wonderwerk dat Tannie Lyla haar glo.
Elke woord.
Vir die eerste keer het dit gevoel of sy ’n ma het. Iemand vir wie háár belange ’n prioriteit is. Tannie
Lyla bring ’n bak soutwater om haar geswelde voete te week. Smeer haar pynlike kruis met Germolene.
Steek vir haar ’n kers in die badkamer aan. Van al die goedheid wat sy in daardie tyd by Tannie Lyla
gekry het, is daar een ding wat bo alles uitstaan: om ’n sleutel vir haar kamer en badkamer te mag hê.
Gertruida Strydom mág keuses maak.
“Dis hoekom jou ma-hulle toelaat dat jy hier bly; dis ’n veilige plek. By ’n tehuis vir ongehude
moeders is vorms om in te vul, maatskaplike werksters en sielkundiges wat die probleem met jou
deurtrap; doktersbesoeke. Jou mahulle sal dit tot elke prys vermy.”
“Wat maak dit saak wat ek vir die sielkundige vertel? Sy is gebind tot ’n eed van geheimhouding en
…”
“Ja, Gertruida. Maar daar is ’n ander kant van die wet ook. Dis onwettig vir enige persoon in ’n
magsposisie om nié die wete van bloedskande by die betrokke owerhede aan te meld nie. So ’n persoon
staar yslike probleme in die gesig as hulle dit dig hou.”
“Dan gaan ek nié. Al wat ek wil doen, is om die hele gemors te stop. Ek wil nie by die owerhede
aangemeld en oopgespalk …”
“Moenie bang wees nie, Gertruida. Asseblief, doen dit vir my onthalwe? Ek sal polisie toe gaan en dit
aanmeld … ”
“Nee, nooit. Dan verdra ek eerder die hel tot …”
“Wag, Gertruida, aanmeld beteken nie noodwendig hofsake en vervolging nie. Al meld ek dit aan, rus
die onus op jóú om ’n verklaring te maak. Doen jy dit nié, het die owerhede geen saak om te vervolg nie.
Maar dan is dit immers wettiglik aangemeld, en solank ek by die polisie ’n skriftelike bewys van
aanmelding kry, is die sielkundige gevrywaar …”
“Nee.”
“Asseblief, Gertruida, asseblief?”
Die oggend toe die polisie aan die deur klop, wou sy mal raak van vrees. Maar sy het geweier om
énigiets te sê. Hulle is onverrigtersake daar weg.
Twaalf sessies van hoop en wanhoop.
Sy het baie by die sielkundige geleer. Aanvanklik het sy elke vraag ontwykend beantwoord met: ek
weet nie; ek kan nie onthou nie. Maar met elke sessie het sy blyer geword omdát sy kon praat. Hoe meer
sy gepraat het, hoe meer herinneringe het voor haar oopgebreek.
“Vertel my van jou speelgoed toe jy klein was.”
“Ek kan nie eintlik iets onthou van speelgoed nie.” Die vraag het haar herinner aan Abel se
speelgoedjies.
“Het jy ’n pop gehad?”
“Ja.”
“Wat was haar naam?”
Staar na die vistenk. “Lulu.”
“Vertel my van Lulu, enigiets …”
Staar, staar, staar. Die kind stamp teen haar blaas, haar voete prik. Staar, staar, staar. “Lulu is al sedert
my laerskooljare in die kliphuis bo in die berg. Ek wou keer dat sy seerkry, toe neem ek haar weg. Ek het
vir haar ’n rooigrasbedjie gemaak …” Asof dit iemand anders was wat praat, vertel sy van Lulu. Sy het
nie besef hoevéél in haar onderbewuste geberg is nie.
Halfpad deur die sessie was sy tot trane ontsteld oor die onbetwisbare detail van haar onthoue. Dis nié
opmaaksels nie. Dikwels daarna kon sy die klein Gertruidatjie, wat met haar Lulu-kind ineengekrimp in ’n
hoekie van die boomhuis sit, en wat steeds iewers in haar hoogswanger lyf woon, vashou en sus.
Maar sy het te min geleer, of dalk was sy te afgerem om behoorlik saam te werk, want ná die geboorte
kon sy nie haar voet uit die slagyster losdraai nie. Kwalik ’n maand ná sy terug was op Kiepersolkloof,
het Abel weer begin. Sy was van voor af ’n lam ter slagting. Selfmoord was ál wat haar permanent kon
verlos. En tóg was sy dankbaar toe Mama Thandeka haar keer om van die windpomp af te spring.
Want iewers in ’n mens bly die hoop klop. Al is dit stadig en dof.
Op Nuwejaarsdag 2004 het sy twee-en-twintig geword. Braham was nog met vakansie by sy ma-hulle,
maar hy het gebel. Sy was te hartseer om bly te wees, want op Oukersdag het Tannie Lyla selfmoord
gepleeg.
“Ek kom vroeër terug,” het hy gesê, “ek verlang na jou. Kan ons koffie drink die Vrydagmiddag voor
die skool begin?”
Die hoektafel agter die nooienshaarvaring was beset en hulle het ’n halfuur by ’n ander tafel gewag.
Vir die kelnerin gesê sy kan die spyskaart bring sodra hulle oorskuif. Dit het gevoel asof almal hoor wat
hulle praat, en die feit dat hulle omring was van kletsende mense en dat sy só gesit het dat sy nie die oop
deur kon sien nie, het haar beknel. Sy wou nie vir Braham vra om plekke te ruil nie, want sy wou dit
vermy om haar obsessie met ’n oop deur te verduidelik.
Oop deure om te kan vlug. Terselfdertyd deursleutels om haar af te kordon. Dit het haar nie meer
verwar nie, want die sielkundige het haar destyds gehelp om dit te verstaan. Tog was sy mateloos verlig
toe hulle oorskuif hoektafel toe.
“Jy’s ’n ander een, Gertruida. Ek het die vakansie seker twintig boodskappe op jou foon gelos. Maar
jy antwoord nie. Hoekom sit jy jou foon knaend af?”
Teken patrone op die tafeldoek. Hy sit sy hand liggies op hare. “Ek wil graag ’n kluisenaar wees,
Braham. Om in die berge te bly en van veldkos te leef, om nóóit weer te praat nie, is my droom.” Soms
was sy verbaas oor hoeveel sinne sy aaneen kan sê in sy teenwoordigheid. “My selfoon is ’n irritasie. Ek
antwoord geen boodskappe nie, maar ek lees en luister altyd na jou boodskappe.”
Hy moenie dink sy ag hom waardeloos nie.
“Langdurige isolasie is afbrekend, Gertruida. Hoekom wil jy ’n kluisenaar wees?”
“Om weg te kom van my pa af.” Dit glip onbewaak uit. Gou doodvee. “Ons verskil te veel oor
boerdery. Hy wíl met Bonsmaras boer, en ék wil Kiepersolkloof omskep in ’n turksvyplaas. Die skuur
kan omskep word in ’n fabriek waar byprodukte van turksvye vervaardig word, die moontlikhede is legio.
Maar hy reken dis vergesog en sotlik.”
“Wat is sy redenasie oor hoekom dit vergesog en sotlik is?”
“Ek dink dis omdat dit arbeidsintensief is en hy sê oor sy dooie liggaam bring hy weer ’n klomp
arbeidersgesinne plaas toe.” Die kelnerin sit hulle koffie en flappertjies neer. “Dit bekommer my,
Braham, maar vandat Tannie Magriet se plaasskooltjie in 1997 toegemaak het by gebrek aan
regeringsfondse, en aan leerlinggetalle, gaan omtrent geen kind in die kloof skool nie. Dis ’n suksesresep
vir misdaad en uitsigloosheid. Ek wens ek kon ’n privaat laerskooltjie op Kiepersolkloof …”
Hy leun agteroor en glimlag. “Dan bedank ek die onderwys summier, en word jou skoolhoof.”
“Waarvandaan gaan die leerlinge kom, en waarmee gaan ek jou betaal, Meester Fourie? En jy sal
tevrede moet wees om in ’n opgeknapte werkershuis te bly.”
“Dit klink alles so aanloklik. Dalk moet ons dit oorweeg?”
“Vergeet dit, my pa sal ’n beroerte kry.”
Hulle sit lank. Kry nog koffie. Dis genoeglik by hom. Maar heeltyd sukkel sy om die bose in haar stil te
kry. Die bose sê: Koop arseen en vergiftig Abel en Susarah. Of draai een Saterdagaand die wielmoere
los, sodat hulle verongeluk as Abel Sondag kerk toe jaag. Dan bedryf jy Kiepersolkloof soos jý wil. Jy en
Braham. Toe sy opkyk na die oop deur, stap Abel by Die Koffiekan in.
“Middag, middag,” groet hy joviaal, kom na hulle tafel aangestap. Maar sy sien die storm op sy gesig
toe hy sy palms op die tafel druk en sissend vorentoe leun. “Ek wag soos ’n bleddie fool vir die
geweerolie, en jy sit en ginnegaap met …”
“Jammer, Oom Abel, dis ek wat haar ophou …”
Hy vat die bottel Balistol-olie wat sy uit haar handsak haal en draai na Braham. Sis weer: “Hierdie
onderwyserskoolkind-vryery is ’n verleentheid, en jy beter sorg …”
Braham staan op. “Sy’s darem nie meer ’n skoolkind nie, Oom Abel.”
“Hou op redekawel met my, ek kon jou pa gewees het. Luister mooi: van vandág af kom jy nooit weer
op my tennisbane nie. Jy hou Gertruida uit die werk, en jy steek ons in die skande. Verstaan jy?”
“Nee, Oom Abel, ek verstaan nie.” Hy skuif sy stoel agteruit en staan op. “Maar as dít is wat Oom wil
hê, sal ek wegbly van Kiepersolkloof.” Hy steek sy hand na Abel uit. “Ek en Gertruida sal op die skool se
tennisbane speel.”
Abel ignoreer die uitgestrekte hand. Loop uit.
“Ek verag hom met ’n passie,” sê sy vir Braham toe hy weg is. “Dalk vertel ek jou eendag hoekom. Of
dalk nooit.”
Die mooi middag was stukkend.
Toe sy teen skemer by die huis kom, sit hy op die stoep met die geweerstok en die olielappie en
borseltjie, en maak sy .303 skoon. Hy ignoreer haar.
Toe die huis donker is en Susarah se slaappil werk, draai haar deurknop. Hy druk die yskoue
geweerloop in haar op, en sê sy moet haar verbeel dis Braham se ou pienk dinge
tjie.
“Asseblief, Pa, ek is …”
“Ja, ek weet jy’s hard up.” Die korrel skraap haar toe hy die geweerloop uittrek. Hy sper haar oop;
stamp sy knie tussen haar bene. “Kom ek gee jou iets ordentliks.”
Aspoestertjie trek haar glasskoentjies aan en hardloop rivier toe in die nag. Sy was die paddaprins se
slym uit haar hare. En wonder hoe messel mens ’n put vir ewig dig.
Sy lig die wasgoedbad tot op die stoepmuur. Beker vla. Slymerige ingelegde perskes. Bloukaas. Aarbei-
jogurt. Noedelslaai. Bottel mayonnaise.
Dalk sien haar ma haar en gryns as sy onthou van die skreeusnaakse Saterdag met die mayonnaise.
Hemelgenade, Abel was briesend. Die Sondagoggend dog sy hy skeur haar ma se kopvel van haar skedel
af. Tóé was dit allesbehalwe snaaks.