Authors: Annelie Botes
Dit gee haar valse krag.
Middagtyd toe Abel sy broek optrek en by haar kamer uitloop, soek sy die presiese betekenis van
“manipuleer” in die HAT. “Hanteer, behandel. Allerhande kunsgrepe toepas. Knoei. Op oneerlike wyse
beïnvloed.”
Sy weet sy is ’n manipuleerder. Dis ál mag wat sy het.
Toe Tannie Lyla die Septembervakansie van haar standerdagtjaar kom kuier, en sy weet daar sal nie
groot bakleie wees nie, skryf sy die brief. Plak toe, skryf die dominee se adres op. Sit dit saam met die
seëlgeld op die muurstaander waar al die poskantoorgoed lê. Sy vra Abel moet dit pos as hy dorp toe
gaan; of hy ’n seël sal opplak. Hy sê ja sonder om te weet waarvoor hy ja sê.
Geagte dominee De Villiers Ek wil met Dominee praat oor iets verskrikliks. Ek is skaam, maar ek móét
praat. Dis al jare lank dat my pa my verkrag en sodomiseer. Hy het my kamersleutel gevat en ek kan
nie die deur sluit nie. Ek het vir my ma gesê, maar sy sê ek beskuldig my pa valslik, omdat hy my nie
my sin in alles gee nie. Sy sê hy is op die kerkraad en sal nooit só iets doen nie. Ek sweer ek praat die
waarheid. As Dominee weer kom huisbesoek doen, moet Dominee wag tot dit naweek of vakansie is,
sodat ek my kant kan vertel. My pa-hulle sal sê ek jok. Dankie dat ek weet Dominee sal my help.
Gertruida Strydom
Min moeite gedoen met die inhoud; sy het geweet Abel sou dit opskeur. Maar dit was haar laaste kans vir
spreiligte.
’n Maand later kon daar aandtennis gespeel word. As sy die vrouens in die gazebo sien skinder, onthou
sy ’n dag lank gelede toe haar pa die planke vir die gazebo in die waenhuis gesaag het, en sy vir hom ’n
malvalekkermuis met ’n dropstertjie geneem het.
Desembervakansie. Dis lank voor sy Menéér Fourie weer sal sien. Wanneer die skool Januarie begin, wil
sy rietmaer en potbruin wees.
Soggens eet sy droë roosterbrood met swart koffie. Jaag haar werftake af. OuPieta en Pietertjie is met
die bus na hulle mense toe tot ná Nuwejaar. Sy moet hoenders kos gee, eiers uithaal. Frieda se kraal
skoonmaak. Lusern sny. Groente natlei. Spreiers skuif. Onkruid spuit op die geplaveide tuinpaadjies.
Tennisbaan toe om teen die tennismasjien te baklei. Voorarm. Rughand. Mokerhoue. Snyhoue.
Lughoue. Valhoutjies. Smeerders teen die kantlyn af. Aan en aan. Afslaan tot haar skouer pyn, en sy die
bal feitlik sonder uitsondering in die hoeke of op die middellyn neersit.
Die skaalnaald sak. Haar bene word koperbruin.
Middae loop sy met Bamba veld toe. Sy neem Braham saam. Hulle loop hand om die lyf. Sy wys vir
hom ’n trop muishondjies wat miskruierbolle omdop op soek na insekte. Proppie op ’n valdeurspinnekop
se tonnel. Lemoenvlinder wat op die modder van die bergpoel sit en water drink. Bosbok se slaapplek in
’n taaibos. Hulle sit in die skadu van ’n wildekatjiepiering, luister na ’n glasogie se fluite. Hulle swem in
die bergpoel; sy duik vir hom ’n poelklippie uit. Hy vryf haar hare droog in die son. Hulle slaap in die
kliphuis.
Sy is ’n maagd.
Sy verlang so na hom.
Saans vertel sy alles in die melkkraal vir Frieda. Dan skakel sy die spreiligte aan, moker die balle
verwoed. Solank sy die huis vermy. Want Susarah is tot die week ná Nuwejaar in Oos-Londen om Tannie
Lyla te help ná ’n histerektomie. Sy wou saamgaan, maar in Oos-Londen is nie ’n tennisbaan en ’n berg en
’n kliphuis nie.
Sy wil dit nie dink nie, maar in haar agterkop glo sy dis die perfekte tyd om Abel in die veld te skiet.
Onder die ken, met die .303. Sy sal hom só neerlê dat dit lyk of hy uit die bakkie geklim en sy geweer
agter die sitplek uitgehaal het. Toe hy dit aan die loop nader trek, moes die skoot afgegaan het. Sy moet
handskoene dra, en haar dik aantrek, sodat die polisie nie krytpoeier op haar kry nie.
Nee, sy moet wag tot hy dronk is. Van haar ma se slaappille in sy brandewyn gooi. Wag tot hy slaap,
en bobbejaangif in sy keel afgooi. Omdat hy die bobbejane voer met lemoene wat met ’n spuitnaald vol
gif gespuit is.
Slaan die balle met elke gram van haar krag.
Maerder. Fikser. Bruiner as Mabel.
“Jy’s mooier as ooit, Truitjie,” sê Abel. Hy verrinneweer haar met wrede speelgoed wat opdaag uit
China.
Ek móét hom vermoor, sê sy vir Frieda. Ek gaan die vleismes onder my kussing sit en hom in sy hart
steek. Totdat die regte oomblik kom, moet sy Solitaire en Tetris speel. Of in Gouelokkies verander.
Gouelokkies hardloop deur die donker woud. Die boomtakke ruk haar klere af. Sy verloor haar koffer
en het nie ’n baadjie nie. Ver-ver sien sy die drie bere se huisliggie. Sy hardloop na die liggie toe. Daar
is niemand by die huis nie. Sy hou haar hande by die kaggelvuur. Eet ’n wors wat aan ’n toutjie by die
kaggel hang. Dis sout; sy spoeg dit uit. Sy is moeg en blou van koue. Die bababeer se bed het ’n sagte
matras en verekombers, maar sy pajamas is te klein vir haar. Toe sy diep slaap, grom die pappabeer voor
die bed, woedend omdat sy die wors op die vloer uitgespoeg het. Hy ruk die verekombers af en krap haar
maag met sy naels. Sy spring op en klouter deur die venster voor die papabeer haar verslind.
Sy soek haar huis, maar haar huis is weg.
Oujaarsoggend van 1999, terwyl Abel vygieboskamp toe is om soutlek uit te sit en waterkrippe na te
loop, begin haar maandstonde. Nie eens dít gru hom nie. Wegkom, voor hy terugkom. Vat haar .22 en
waterbottel en koshuiswasgoedsak met ’n bietjie toiletware. Roep vir Bamba. Draf rivierlangs; spring
sover moontlik op die rivierklippe. By die amandelbome swenk sy ooskant van die berg langs, lang-pad,
sodat daar geen kans is om haar in die verte te sien nie.
Die bobbejaantrop teen die kranse blaf vir haar. Sy wil ’n bobbejaan wees, eerder as ’n mens. Al het
sy die laagste rang in die trop, sal die trop haar bewaak. Anders as die menstrop. Kleintyd het sy dikwels
vir haar pa gevra om vir haar ’n bobbejaantjie te vang. ’n Boetie vir Lulu. Elke keer sê hy nee, met ’n
kwaai kyk in sy oë.
Twee keer waarsku Bamba haar betyds oor ’n pofadder. Sy kan nie skiet nie. Abel moenie weet sy is
in die berg nie. Loop ’n halfsirkel óm die pofadder.
Die kos in die kliphuis is min. Saggeworde soutbeskuitjies. Blik boontjies. Maak ’n bossiebesempie
en borsel die turksvydorings af voor sy dit met die draadhaak pluk. Mens moet bokant die wind staan,
anders waai die dorings in jou oë in. Sy is dankbaar die turksvye groei naby, want sy is moeg. Bad en
hare was in die bergpoel. Bak droog in die son. Bamba lê op ’n poelklip; hy kyk na haar. Maar hy kyk
anders as Abel. Die son maak haar loom.
Sy droom van haar turksvyplaas met ’n bedrywige fabriek. Sy patenteer medisyne teen diabetes en is
wêreldbekend. Word ’n biljoenêr uit verslankingsmedisyne. Oorsese firmas betaal in ponde, euro’s en
dollars vir houers met sjampoe en seep wat sy verskeep. Mabel en die plaasvrouens bedryf ’n padstal met
’n teetuin teen die teerpad. Motors met vreemde nommerplate staan ingeryg om Mabel se turksvyprodukte
te koop.
Mabel en die plaasvrouens word ook ryk.
Kiepersolkloof is nie meer ’n stil plek vol hartseer nie.
Skemertyd loop sy en Bamba die entjie terug kliphuis toe. Hang die seil voor die deuropening en steek
’n kers aan. Eet soutbeskuitjies. Blaai in die boek oor Leonardo da Vinci; sy ken elke woord uit haar kop.
Kruip uit en luister in die soel nag na die krieke; hou die Suiderkruis dop.
Toe sy skat dis middernag, tel sy Bamba op haar skoot. Só draai die eeu vir haar. Alleen in die donker
berg, met die hond teen haar vasgedruk. Niks kan haar op daardie oomblik gelukkiger maak nie. Ek is nou
agtien, sê sy vir Bamba, die dag kom nader dat ek gaan wegloop. Al moet ek in die berge en klowe leef en
vrek soos ’n dier.
Hy lek haar wang.
Hulle slaap. Sy en Bamba.
In haar slaap verlang sy na Braham.
Vier volle dae bly sy daar. Pluk vlesige notsungbessies en gomagtige swartbessies. Grawe uintjies. Dit
hou die ergste honger weg. Teen sonsak soek sy plekke waar die son op doringgomklonte skyn. Die gom
laat haar maag werk, sodat sy nóg maerder voel.
Op die derde dag kom sit Bamba ’n kransduif voor haar voete neer. Die gasstofie is leeg en die wind
waai verkeerd, sy kan nie vuurmaak en die duif braai nie. Begrawe hom. Sê vir Bamba hy mag hom nie
uitgrawe nie.
Vier dae, toe is haar maandstonde verby. Sy mis die tennisbaan; Frieda en Mabel. Diepnag hang sy die
seil voor die deuropening en gooi ’n bietjie water uit haar heupbottel by die ingang om dankie te sê. Toe
loop sy huis toe onder die sekelmaan.
Omdat sy nêrens anders het om heen te loop nie.
Sy kan nie terugklim deur die venster nie. Abel het diefwering aangesit. Hy dreig lankal daarmee. Sit
by die voet van die engelbeeld; die trane loop teen haar nek af. Hoe gaan sy snags uitkom? Ganglangs?
Nee, die plankvloere kraak.
Die muskiete steek haar. Enigste plek wat nie gesluit is nie, is die skuur. Sit teen die John Deere se
wiel op die lou sementvloer. Vasgekeer, vasgekeer.
Op pad dorp toe vir haar eerste grootskooldag, het haar ma gesê daar is privaat goed waaroor mens met
niemand praat nie. Nie eens met Juffrou Robin of Matrone of jou beste maatjie nie.
Soos wat?
Mens vertel nie as daar in die huis baklei word nie. Jy bly net stil.
Wat nog?
Mens sê nie vir mense as ons stilletjies in ons huis van hulle skinder nie.
Ag, dis maklik. Sy wil nie nou aan baklei en skinder dink nie, sy wil dink aan die goed in haar
skooltas. Kryte. Plakkertjies. Tekenboek. Blou liniaal en potloodsakkie. Blou kosblik en
koeldrankbotteltjie. Anthonie se skoolgoed was ook blou.
Hou op vroetel met jou tas en luister na my, Gertruida … Die belangrikste ding waaroor mens nóóit
lelik praat nie, is jou ouers. Ouers werk hard om hulle kinders die beste te gee. En álles wat ons vir jou
doen, doen ons uit die liefde van ons harte. Jy mag nooit sleg praat oor Pappa en Mamma by die skool
nie. Jy hoor mos as Dominee in die kerk die Tien Gebooie sê: Eer jou vader en jou moeder, dan sal jy
lank mag woon in die land wat die Here jou gee. Weet jy wat dit beteken?
Dit beteken as ek niks van julle sê wat lelik is nie, mag ek op Kiepersolkloof bly tot ek eendag met ’n
boer trou wat sy eie plaas het.
Jy’s ’n slim dogtertjie. Onthou, ons huis se sake bly nét tussen ons. Belowe?
Hou haar tas styf vas op haar skoot. Oefen solank om haar lippe toe te knyp.
Hóór jy my, Gertruida?
Ja, Mamma. Ek belowe.
Die John Deere se wiel druk in haar rug. Sy snuit haar neus aan haar hemp.
Voor die einde van die eerste kwartaal van standerd vier het sy by die dorpsbiblioteek aangesluit. Omdat
sy nie staptye alleen in die dorp wou drentel nie, en omdat sy ’n boek wou soek waarin sy alles wat die
klinieksuster gesê het, sélf kon lees. Dis waar sy Mister Williston die eerste maal van naderby gesien het.
Die man wat soos Petrus van die Bybel lyk.
Die derde Woensdag het sy die boek gekry.
Wat meisies wil weet
deur dr. Jan van Elfen. Druk dit by
haar broek in en hou die ander boeke voor haar. Want sy was skaam dat Mister Williston sien sy neem dit
uit.
Skrik, skrik, skrik. Nie oor iets in die boek nie. Maar oor al die leuens en pyn wat sy moet deurmaak.
Die hond kruip teen haar kuit aan, lek haar enkel. Sy huil. Sy vertel vir die hond wat niemand weet nie.
Oor haar spaargeld in die koekblik in die kliphuis wat stadig groei. Want sy spandeer haar sakgeld op
pantyliners en wet wipes. Koop by verskillende winkels, sodat dit onopvallend is. Die bruin
ontlastingstrepie in haar broek is weersinwekkend. Sy wil nie na maagwerk ruik nie.
Jy kan my nie vang nie … sies, jy ruik na akkies … stink Gertruida Strydom …
Tennisklere is wit en kort, en dit waai maklik op.
Hoe lank voor haar kringspier hééltemal slap is? Kan ’n kringspier met ’n operasie herstel word?
Hoeveel sal dit kos? Sy moet haar tennisdrag verander. Swart rekbroek. Swart kouse. Swart sweetband.
Swart veters. Almal moet dink dis ’n modegier.
En sy moet ’n plan bedink om die koekblikgeld vinniger te laat groei.
Daar is baie geld in die blik, maar steeds te min. Steel-geld wat in die huis rondlê. Lieggeld oor
skoolgoed wat sy kastig nodig het, en Abel géé. Verjaarsdaggeld wat Tannie Lyla in haar presentboek sit.
In die koekblik is Abel se goue mansjetknope en Ouma Strydom se robynring waaroor Abel en Susarah
baklei wanneer Abel dronk is. Die pêreloorbelle en halssnoer wat hy vir Susarah gegee het met Anthonie
se geboorte. Onvervangbaar. As Abel vra waar is die pêrels, sê Susarah sy is bang sy word beroof,
daarom is dit in die bankkluis op die dorp vir veilige bewaring.
“Jy lieg!” skreeu hy en die brandewynglas val uit sy hand.
“Dis beter,” skree Susarah, “dat dit in die bankkluis is, sodat ek nie herinner word hoe jy my van my
kind beroof het nie!”
“Waar’s die kwitansie van veilige bewaring?”
Storm kamer toe en druk die kwitansie in sy gesig. “Sién jy die bankstempel? Sién jy dis geteken? Sién
jy dis gespesifiseer? Hou óp sê ek lieg!”
Waar sou haar ma aan die kwitansie kom? Dalk is dit nagemaak en hy is te dronk om te sien. Ineens kry
sy haar ma jammer. Hoe ver moet ’n vrou gaan om haarself te beskerm? Hoeveel leuens moet sy uitdink
en uitleef ter wille van ’n dak oor haar kop?
Die dag as sy wegloop van Kiepersolkloof af, wil sy lig dra en vinnig padgee. Met duur items.