Authors: Annelie Botes
Hoe lank nog voor Paastyd?
Honderd slapies.
Wat is Paastyd?
Dis toe Jesus aan die kruis gesterf het. En as ons Paaseiers in die tuin wegsteek, en Mamma bak
Paasbolletjies.
Lyk ’n Paashaas anders as ’n veldhaas?
Ja, ’n Paashaas is wit.
Hoe lê ’n Paashaas ’n tjoklit-eier?
Sy vry met ’n mannetjie-Paashaas en dan kom daar ’n eier in haar maag.
Wat is vry?
Die mannetjiehaas klim op die wyfiehaas, dan pie hy op haar.
Hoe kry hulle dit reg om ’n tjoklit-eier uit te vry?
Sommer oor hulle Paashase is.
Hoe sterf mens aan ’n kruis, Anthonie? Bloei mens?
Jy moet in die kerk luister, ek weet nie alles van die hele Bybel nie.
Sê jy sweer en belowe dat jy my Paastyd die hele alfabet sal leer, toe?
Ek sweer.
Toe ry hy met die bakkie oor die afgrond voor die honderd
slapies verby is. Niemand steek Paaseiers weg, of bak Paasbolletjies nie.
Haar ma sê sy moet haar wit rokkie dra vir Paasnagmaal. Die kerk ruik na soetwyn en kerse; almal kry
palmkruisies. Hulle sing ’n lied oor Paasfeesklokke. Toe sy opkyk om te sien hoekom haar pa nie sing nie,
sien sy hy huil. Sy slaan haar arm om sy been, vryf oor die ronde been vooraan sy knie. Lê teen sy arm tot
die kerk uitkom. Sy swart kerkpak met die gryswit strepies krap haar wang. Kollektetyd gee hy haar ’n
groot ronde rand.
Op pad huis toe vra sy vir haar ma: “Is Mamma ’n woestyn?”
“Waarvan praat jy, Gertruida? Jy weet nie eens wat is ’n woestyn …”
“Is, ek weet. Die woestyn se naam is Sahara. Dit klink nes Susarah. Beteken Sahara dan Susarah?”
“Stop jou gekekkel, Gertruida, my kop is seer!”
Vandag is sy liewer vir haar pa as vir haar ma. Sy staan op die agtersitplek en leun oor sy skouer om
haar palmkruisie in sy baadjie se bo-sak te sit. Fluister by sy oorskulp hy kan dit vir altyd hou. Omdat sy
hom vir altyd sal liefhê.
Hy haal vir haar ’n diakenspilletjie uit sy baadjie se binnesak en sê hy sal haar ook vir altyd liefhê.
Maar hy het nie.
As die bouwerk klaar is, gaan sy weer ’n sielkundige sien, sonder die aversie en nood van die tyd by
Tannie Lyla. Om leiding te kry met die orden van haar gedagtes; om te leer om haar gedagtes te omskep in
klank. Te onderskei tussen liefde en haat. Tussen Susarah en Sahara. Tussen Abel en Kaïn. Tussen
Doringrosie en Gertruida.
Of ís daar geen verskil nie?
In die daglig skrik sy vir die chaos in die tuin. OuPieta moet die yskasgoed begrawe voor dit stink.
Onder by die rivier waar dit sanderig is en hy nie hoef te pik met sy oumenslyf nie. Dalk moet sy die
trekker bring en die meubels van die muur wegsleep, netnou brand die huis af. Nee, die muur sal net
skroei; dit kan geverf word.
Sy moet klaarkry met wegsmyt. Môreaand, op haar elfde feetjiemaan, wil sy die vuurhoutjie trek.
Feetjiemaan is slegtemaan.
Die vorige feetjiemaan was drie jaar gelede, Oujaarsnag 2005, ’n jaar ná Tannie Lyla in Oos-Londen
veras is. Donkerste nag. Sy kon skaars ’n halftree voor haar sien toe sy rivier toe loop om by die water na
Tannie Lyla te verlang.
Hopelik sal môreaand ’n gelukkige feetjiemaan wees.
Sy moet ophou om maantye te herroep en te herspeel. Dis konserte wat verby is. Kry eerder rigting met
die huisgoed wat uitgegooi moet word. Maar die horlosie in haar kop wíl nie stil raak nie. Dit tik-tik, tik-
tik deur vele ontredderende mane van haar lewe. En sy kan nie daarvan ontsnap nie.
Haar eerste bewuswording van die maan as ’n towerding, was ná Anthonie se dood, voor sy geweet het
van towersalf. Sy lê met Anthonie se Bamba by haar ma op die bed.
Haar ma se bedkassie lê vol natgehuilde tissues. Haar pa bring vir haar ma tee en ’n kopseerpil.
“Dis vanaand bloumaan,” sê hy en vryf oor haar ma se hare.
Bamba skrik toe sy opspring. “Sal Pappa die bloumaan vir my wys?”
Heeldag wens sy dis al aand. Toe dit aand is, sit sy en haar pa op die stoeptrap onder ’n kombers. Dis
koud, haar neus brand. Die maan rys oor die bergrant. Kaasgeel.
“Hoekom is hy nie blou nie?” vra sy.
Haar pa lag en druk haar vas. Hy sê van twee volmane in een maand. Sy verstaan nie van maande nie.
Al wat sy weet, is dat hy gejok het oor bloumaan. Bloumaan is nié blou nie.
Later, toe sy verstaan het van maande, het hy vir haar op die kerkalmanak die prentjies van sekelmaan,
feetjiemaan en bloumaan gewys. Maar teen daardie tyd het sy nie meer geweet wanneer om hom te glo
nie.
In die ses-en-twintig jaar van haar lewe was daar net een swartmaan. Saterdag, 31 Januarie 1999,
omtrent twee weke nadat Braham by die skool begin het.
“Swartmaan kom as 31 Januarie bloumaan is, dus die tweede volmaan in Januarie,” het hy in die klas
verduidelik. “Gevolglik is daar geen volmaan in Februarie nie. Dis ’n seldsame verskynsel.” Hy hou ook
van mane, nes sy. Hy betower haar meer en meer. “Swartmaan het voorgekom tydens die Tweede
Wêreldoorlog in 1942. En toe eers weer met Republiekwording in 1961. Dit kom weer in 2018, wanneer
julle al in julle middel dertigs is. En weer in 2037, wanneer julle oumense van in die vyftig sal wees.”
Die swartmaan-aand van 31 Januarie 1999 het Abel haar verbied om skoolsokkie toe te gaan. S´y was
Gouelokkies terwyl húlle ’n singende, slingertrein vorm met Meneer Fourie aan die voorpunt.
I see the bad moon arising.
I see trouble on the way …
Don’t go around tonight,
… it’s bound to take your life,
There’s a bad moon on the rise.
Die daaropvolgende week het die kinders die lied by die skool gesing, soos ’n koors wat hulle getref
het. Sy het nie saamgesing nie. En ín haar was ’n mengsel van angs en vooruitsig elke keer as sy in die
Afrikaansklas instap en hom sien.
Sy moet klaarkry met die huis. Sondag met dagbreek moet
die vuur uitgebrand wees.
Maandag is lentedag.
Vir haar ook.
Toe haar ma terugkom van Kaapstad af, was die boonste vet vleisie van haar pietermuis swartblou, en die
eerste sneeuklokkies was oop. As die sneeuklokkies blom, beteken dit die feetjies kom sê die winter is
verby. Sneeuklokkies staan vir hoop, het haar ma gesê.
Wat beteken hoop?
Dis as jy iets het om na uit te sien.
Toe pluk haar ma ál die sneeuklokkies vir Anthonie se graf. Los nie eens enetjie om agter haar oor in
te druk nie. Sy was nie kwaad nie, want haar ma het haar alleen laat bad, en vir haar ’n slaappop van
Kaapstad af gebring.
Dis lekker om ’n baba te hê, al is sy nie in ’n regte hospitaal gebore nie. Sy en Mabel het haar baba by
die voëltjiebad onder die sederboom gedoop. Lulu. Haar pa het ’n houtbedjie gemaak met ’n opstaanrand,
sodat Lulu nie in haar slaap afval nie. Toe dra sy en Mabel die bedjie teen die touleer op en sit dit in die
boomhuis.
Iets in haar maag het gevoel asof sy ’n groen perske heel ingesluk het as sy haar ma wou vertel van die
driewiel en haar groenpers pietermuis. Liewer stilbly. Oor Vaseline en towersalf en die likkewaan ook.
Buitendien, haar ma lê heeldag op die bed en huil.
Toe ruk haar pa die gordyne oop en raas vreeslik met haar ma. Hy ruik na brandewyn en skree sy moet
haar treurigheid los en die naaldwerkmasjien uithaal en sy klere heelmaak en sy diakensdas met bensien
was, want hy skaam hom om met so ’n vuil das kerk toe te gaan.
“Kerk toe, jy? Om jou voor God te verootmoedig met ’n vrot brandewynasem?”
Klink na ’n kraai wat kwaaa-kwaaa-kwaaa skree.
Voor Anthonie dood is, hét haar pa partykeer na brandewyn geruik. Ná die tennis. Effens soeterig. Hy
het nooit met die glas in sy hand aan die slaap geraak nie. En die glas het nooit uit sy hand geval en op die
vloer gebreek nie.
Daardie dag was die eerste keer dat sy haar ma hoor sê het: “Dis j´ý wat my kind doodgemaak het,
Abel, jy!”
Hoe kon dit wees? Haar pa was dan by die huis toe die bakkie oor die afgrond gerol het. Hy kon mos
nie op twee plekke gelyk wees nie.
“Jy’t my kind gewetenloos van my gesteel, Abel! God sal jou straf oor wat jy my aangedoen het!”
Haar pa en ma het geskree. Sy het met Lulu in die boomhuis gaan sit van bangheid. Wat beteken
“verootmoedig” en “gewetenloos”? Hoe steel mens jou eie kind? God moenie haar pa straf of laat
doodgaan nie. As hy doodgaan, wie sal dan met haar slangetjies-en-leertjies speel by die kombuistafel?
En Bamba se bosluise aftrek? Vir haar witvye skil en amandels kraak?
Jy is bang in jou hoë boomhuis. Jy wil nie hê God moet jou pa straf nie. Jy bid dat Jesus jou ma se trane
moet afdroog. Omdat jy klein is, weet jy nie daar sal ’n tyd kom dat jy God se vergelding aan die voet van
’n sandkruis oor Abel Strydom sal afsmeek nie. En dat jou ma se trane jou later koud sal laat nie.
Sy loop heen en weer tussen die twee gastekamers; elk met sy eie badkamer. Waar moet sy begin? Alles
lyk so stylvol afgerond.
In die een ’n hemelbed met ’n gehekelde deken. Lampetbeker en waskom op die marmerwastafel.
Bruin gliserienseep. Bokant die wastafel ’n portret van rooi rose:
DE HEERE IS MIJN LICHT EN MIJN
HEIL. Ps. 27:1
. Skaapvelmatjies. Roospotpourri in ’n porseleinbakkie met goue stulpe. Paraffienlampe
omskep in elektriese bedlampies.
Altyd Tannie Lyla se kamer gewees wanneer sy elke jaar in September kom kuier het uit Oos-Londen.
Blyste bly, want wanneer Tannie Lyla op Kiepersolkloof kuier, het haar ma nie maagwerkpille gedrink
nie. En nooit het die rugruiter rondgesluip nie. En elke jaar bring Tannie Lyla vir haar boeke. ’n
Woordeboek. Blokraaiwoordeboek. ’n HAT. ’n Tesourus, ’n tweetalige woordeboek. Woordeboek van
die mitologie, musiekwoordeboek. ’n Atlas. Digbundels. Bybelkonkordansie. Tannie Lyla het gesê hoe
meer mens lees, hoe slimmer word jy.
“Kennis is mag, Gertruida …”
Sy wóú slim wees. Kennisvaardig. Maar hoe meer haar kennis geword het, hoe minder het haar mag
geword.
Tannie Lyla het nie na Susarah gelyk of geaard nie, al was hulle ’n tweeling. Min gepraat. Graatmaer.
Dra laag-op-laagklere in somber bruin en swart en sandkleur, dan lyk sy soos ’n vrou uit die Kinderbybel.
Sy het saans by Tannie Lyla op die bed gelê. ’n Kers wat op die spieëlkas brand. In die spieël lyk dit na
twee kerse. Tannie Lyla vertel van sterrestelsels, godsdiensoorloë, antieke stede, die Bermuda-driehoek.
Sy verluister haar. Verkyk haar aan Tannie Lyla se bedsokkies en die lang wit flennienagrok. Saans kam
sy haar lang swart hare voor die spieël. Bid op haar knieë by die hemelbed.
Sy wens Tannie Lyla wil vir altyd op Kiepersolkloof bly.
Dikwels het Tannie Lyla en haar ma na Anthonie se graf toe geloop met varklelies en rose. Haar ma
wou nooit dat sy saamgaan nie. As hulle terugkom, gaan lê haar ma op die bed met ’n kopseer.
Dan drink sy en Tannie Lyla swart blaretee op die stoep. Stadig, sodat die blare afsak. As daar net ’n
druppeltjie oor is, skommel Tannie Lyla die koppie in die rondte; dop dit op die piering om.
“Kom ek lees jou fortuin, Gertruida.”
Elke jaar dieselfde seremonie.
Ek sien ’n wit-en-bruin hondjie na jou aankom; dalk kry jy ’n nuwe hondjie … Ek sien goue sterretjies
in ’n skryfboek; dalk word jy eendag ’n digter … Ek sien ’n man in jou kamer in die nag, dit lyk soos jou
pa; dalk kom kyk hy of die tandemuis genoeg geld in jou skoen sit … Ek sien jou tussen boekrakke, jy
stempel die boeke; dalk word jy eendag ’n bibliotekaresse … Ek sien jou loop oor ’n grasperk tussen
geboue en jy dra ’n leertassie; dalk is dit ’n teken dat jy universiteit toe gaan … Ek sien jou op ’n rusbank
sit en jy vertel vir ’n onbekende vrou iets, ’n hartseer iets, want jy huil; maar ek kan nie hoor wat jy sê nie
…
Ná die baba se geboorte het Tannie Lyla nooit weer haar teekoppie gelees nie. Want teeblare en drome
gaan verby.
Gou nadat sy in standerd vier by die biblioteek aangesluit het, het Mister Williston haar toegelaat om aan
die grootmenskant boeke weg te pak. By die kunsboeke het ’n skildery gehang wat haar na Tannie Lyla
laat verlang het, asof dit Tannie Lyla is wat uit die raam na haar kyk.
Die Mona Lisa.
Soms het sy op die mat gesit met ’n Afrikaanse boek oor die lewe van Leonardo da Vinci. Gestaar na
die hartseer skaamheid van die outydse vrou. Gewonder hoe het ’n mán dit reggekry om die oë van ’n
vrou te skilder dat dit lyk asof hulle wil toegaan. Soos aan die slaap raak. Sy het vir Mister Williston
gevra wát in die Mona Lisa is so geheimsinnig. Hy het dit ’n aura van mistiek genoem.
Nuwe woorde om op te soek. Aura: uitwaseming, uitstraling, gewaarwording. Mistiek: strewe na die
innige vereniging van die siel met God; verborge, geheimsinnig.
Beswaarlik verstaanbaar, maar so mooi.
Eendag het die “Ave Maria” op die agtergrond op die biblioteek se CD-speler gespeel. Iets in die
hartroerende klanke het haar laat begryp wat beteken ’n aura van mistiek. Al kon sy dit nie in woorde
verduidelik nie.
Tannie Lyla het ’n aura van mistiek gehad. Wanneer sy en Tannie Lyla by die rivier sit, kon hulle praat
sonder woorde. Veral toe sy groter word. Eendag, sy was so vyftien, het sy en Tannie Lyla na die paddas
sit en luister. Toe loop daar ’n traanstrepie oor Tannie Lyla se wang.
Amper het sy daardie dag haar kliphuis vir Tannie Lyla gewys. Omdat sy geweet het Tannie Lyla sou
daarvan hou om teen die lyf van die berg in ’n warm holte te sit waar niemand van haar weet nie. Toe
staan Tannie Lyla op en trek haar insteeksandale aan; sê sy het Susarah belowe sy sal saamloop graf toe