Authors: Annelie Botes
omdat sy nie haar kliphuis vir Tannie Lyla geleen het nie. Al was dit net vir ’n kort rukkie.
Gertruida treur drie dae. Gertruida treur dertig dae. Gertruida treur tagtig dae. Gertruida treur
drie eeue.
Die ander gastekamer is ’n Afrika-kunswerk. Dit moes Susarah maande geneem het om die
gordyndrapeersels te stik. Dekens geappliek met diermotiewe. Muskeljaatkatvelletjie op die voetenent.
Voetstoeltjies soos olifantpote. Gebreide springbokvelletjies langs die bed. Lampskerms van varkvel.
Houtbak met kerriebos op die vensterbank. Die muur wat wes front, is beskilder met die silhoeët van ’n
swart man wat op ’n horing blaas teen ’n oranje sonsondergang.
Lank terug was dit Oupa Strydom se kamer. Sy kan hom nie regtig onthou nie. Net brokkies, en dat
Anthonie gesê het die kamer ruik suur. Nou ruik dit na wildekruie. Dis waar die tennisgaste soms slaap.
Besigheidsbesoekers, vernames van oorsee.
Ruiterlose nagte om te koester.
Wie was Susarah regtig?
’n Statige vrou wie se gedagtes vol was van delikate taferele; wat geduldig die fynste stekies borduur.
’n Bewonderenswaardige vrou wat haar publieke masker met presisie kon lig en laat sak.
Beklaenswaardige pateet as buite-oë nie kyk nie. Beheerloos oor die binnekamers van haar huis. ’n
Neurotiese vrou wat maagwerkpille verorber; haar dronk man terg; welwetend haar dogter laat misbruik.
Wat was haar drome en vrese? Watter duiwels en engele het sy geberg? Waarom het die koedoehoring
háár deurboor, en nie vir Abel nie? Hoekom het sy só gesterf? Deurboor. Vasgepen. Op pad na die Huis
van die Here saam met die man wat sy eens liefgehad, en later verfoei het. Of het sy hom nooit regtig
liefgehad nie? Dalk het sy gehoop die dag sou kom waarop ’n man se lyf haar nie met naakte weersin
vervul nie. Here, dalk het sy ook desperaat gesoek na liefde en aanvaarding. Gedroom van gelukkig wees.
En op haar alleenreis het sy gesterf sonder liefde.
Sonder om enigiets te verwyder, trek sy beide gastekamers se deure toe.
Die roomysbak met mieliepap onder die kiepersol is lou. Op die deksel lê ’n lepel. Toe sy die deksel
afhaal, vorm die stoom ’n straaltjie wat op die turf drup. Op die pap dryf ’n laag gesmelte suiker. Briefie
in die vadoek:
Is tyd dat jy beginte mieliepap eet. En om te sien suikerstroop is net gesmelte suiker
.
Dan ’n ander
ding. Die laaste keer toe Miss Lyla hier was, het sy gevra ek moet soek waar bêre jou ma die sleutel
vir die koffertjie onder haar bed. Maar sy’t gesê ek moet eers vir jou sê die dag as jou ma nie meer in
die lewe is nie. Ek het skoon gevergeet daarvan. Is jou saak of jy die sleutel wil hê, maar ek sê maar
net dis met Prestik vasgeplak teen die onderkant van die hall stand.
Sit die deksel terug. Die frummeltekstuur, saam met die deurskynende taaierigheid, sal haar laat opgooi.
Sy sal later die brood in die brooddoek eet. ’n Tamatie, ’n lemoen.
By die trap baan sy ’n pad tot by die muurstaander. ’n Bol geroeste staalwol steek haar vingers toe sy
die muurstaander omkantel. Trek die sleutel los uit die bruingeworde wondergom. Stap met die gang af na
Susarah se kamer en haal die outydse koffertjie onder die bed uit.
Die sleutel pas.
Wat het in die kopwêreld aangegaan van die kind wat met die koffertjie skool toe geloop het?
Op ’n Saterdagoggend in Februarie van standerd agt, toe sy nog nukkerig was oor die swartmaan-
sokkie, was sy en haar pa besig om lusern met die sekels te sny, voor dit verlep en die melkkoei blousuur
kry. Toe kom OuPieta aangehink om te sê daar is fout met Pietertjie. Hy braak en sy hand is blink
opgeswel. Haar pa dink dis ’n spinnekopbyt. Binne minute is hy met Pietertjie op pad dokter toe.
Sy was oortuig haar pa het Pietertjie liewer as vir haar. Bring vir hom ’n staalkam of jelliemannetjies
of blaasborrels.
En sý moet vrotvis-gunsies bewys op pad terug van die koshuis af. Dit insluk ook. Want hy sê sy móét.
Die een keer toe sy die ruit afdraai en die sout gemors uitspoeg, het hy op die verlate plaaspad afgetrek,
haar uit die bakkie gestamp en die sambok agter die sitplek gevat. Haar genadeloos met die handvatsel
geslaan. Ribbes, rug, boude. Waar niemand sal sien nie.
“Jissus, Pa, eina!”
“Ek is lankal gatvol vir jou cheeky houding! Vandag bliksem ek jou reg!”
Sy keer met haar hande en arms. Hy slaan haar armpyp raak. “Pa, hou op!”
“Jy wíl mos nie hoor nie!”
Hy trap op ’n los klip en verloor sy ewewig, sodat sy kan weghardloop. Jaag haar flou met die bakkie
deur die veld. Uiteinde is dat sy voor hom moet kniel, terwyl hy in haar gesig pie.
Daardie aand ná melktyd het sy op die melkstoeltjie by Frieda gaan sit, en vir die koei gesê dís wat ’n
recce is. Net iemand sonder gewete of emosie sal só iets doen. Hy voel vir haar ewe min as vir die
terroriste wie se ore hy afgesny het.
Vir Pietertjie sal hy die lusernsnyery los en dokter toe jaag. “Sny klaar en pak in die skuur,” sê hy. “Ek ry
nou dadelik.”
Teetyd gaan soek sy brood en konfyt. Dis Mabel se af Saterdag en haar ma sal nie kos maak as Abel
dorp toe is nie. Dis ligadag; daar is niks om uit die tennisskinkborde te steel nie. Op pad soontoe, toe sy
verby die engelbeeld in die tuin loop, hoor sy haar ma gil. Moordgille. Het iemand by die agterdeur
ingekom en haar ma aangeval?
Hardloop. Gryp die .22 by die muurstaander. Storm kombuis toe. Sy kry haar ma bo-op die meelkas in
die spens. Tussen haar en haar ma staan die koperkapel ’n halfmeter hoog. Blinkgeel, sy kop ’n breë bak.
Oorgehaal om soos blits te pik. Dodelik-dodelik.
“Staan stil, Ma!” skree sy. “Moenie afklim nie! Staan stil!”
Ineens wil sy die spensdeur van die kombuiskant af op ’n skrefie toetrek en haar histeriese ma por om
stádig af te klim en stádig verby die koperkapel te loop. Hy sál haar pik. Voor Abel terug is van die dorp
af, sal sy dood wees.
Die adder gee Gertruida die gedagte dat die regter … Ter
wyl sy die sin vorm, kry sy die visier op
die slang se kop. Die skoot klap sekuur. Die erdekan met gemmerbier spat aan stukke. Stap nader, tot sy in
die gemmerbier trap. Trek nog vier skote in die dooie slang se kop af, tot in die houtvloer, om haar ma stil
te skok. Haar ma hou op met gil.
Dis nie haar ma wat op die meelkas staan nie. Dis ’n kermende dogtertjie wat haar skoene natgepie
het. “Kom, ek tel Ma af.” Draai haar rug meelkas toe. “Hou om my nek, dan abba ek Ma verby die slang.”
“Gertruidatjie … Gertruidatjie …”
“Toemaar, Ma, hy’s dood.” Haar ma se bene klou om haar heupe. Haar langbroekpype is koudnat.
“Kom, ek gaan tap Ma se badwater in …”
Sy maak die skoolkoffer se deksel oop. Dis asof sy ’n kaal mens afloer.
Sierlike roomwit balletskoentjies, saamgebind met die satynstrik. Die kastanjette waarmee sy op en af
in die gang geoefen het toe daar nog nie ’n ding soos ’n naglikkewaan was nie. Klein juweleboksie met
geelgeworde melktandjies. ’n Pak briewe, vasgebind met pakkietou, die adresse in Tannie Lyla se
handskrif. Afskrif van Tannie Lyla se testament. Brief van die skool, gedateer 15 November 1991, om te
bevestig Mabel is aanvaar as skoolleerling en koshuisganger met ingang 1992.
Anthonie se begrafnistraktaat met die pers hande. Die letterbrief met GERTRUIDA boaan geskryf. Vuil
gevat, vol geskryf deur ’n lomp kinderhandjie. Dat. Dit. Ui. Ruit. Trui.
Brief van Matrone, Donderdag, 5 Mei 1994. Haglike situa
sie met bednatmakery … oorweeg om haar
na ’n uroloog …
Haar ma-hulle het haar nooit geneem nie. Die kere dat sy by ’n dokter was met
mangelontsteking of waterpokkies is haar ma saam in. As die dokter vrae vra, antwoord haar ma namens
haar. Wagter oor haar mond.
Afskrif van haar ma-hulle se trousertifikaat in ’n lêersakkie. Dit bewys hulle móés trou. Haar ma was
net agtien … Ook in die sakkie is ’n standerdagtsertifikaat. Sy voel duiselig by die wete dat sy eintlik níks
van haar ma geweet het nie. Behalwe wat sy van Tannie Lyla gehoor het.
Brief van Juffrou Robin: … tekens van molestering … dophou wat gaan aan tussen die spelende
kinders op die plaas … koshuismatrone moet sindelikheid beter reguleer …
Sy wil nie verder lees nie. Hoe is dit moontlik dat niemand ’n vinger op die wond gelê het nie? Iémand
moes kon sien? Noudat sy nie meer ’n kind is nie, weet sy Juffrou Robin sou die brief slegs met die
medewete van die skoolhoof geskryf het. Dit sou in die personeelkamer bespreek gewees het. Gertruida
Strydom sou nie ongesiens verbygegaan het nie. Matrone is nou in die ouetehuis op die dorp, ’n
gerespekteerde vrou, voorsitster van die leeskring. Sy was tog nie dom nie?
Of was almal bang vir Abel Strydom? Recce wat sonder veiligheidsgordel teen die kerktoring opklim
en die horlosie regmaak. Almal roep hóm om ongewenste byeneste uit te haal. Ná ’n noodoproep van die
munisipaliteit jaag hy dorp toe en doodsveragtend haal hy ’n kind uit ’n inkalwende put. Toe die helfte
van die swart woonbuurt afbrand, storm hy met ’n nat kombers om sy lyf by ’n brandende kaia in om ’n
blinde ouma uit te dra. Jakkalse jag, perde inbreek, spoor sny. Enigiets wat gewaagd gevaarlik is. Dit was
Abel se kos.
Mens sukkel nie met ’n skatryk recce nie. Jy staan op aandag; sê ja en amen.
Waar sal die agterdogtiges bewyse kry? Hoekom hulle nekke uitsteek as hulle weet dit gaan met ’n
lastereis afgekap word?
Thula-thula. Sjuut-sjuut.
Netnou trap jy kaalvoet op die nagadder.
Met Paasnaweek van 2006 is hulle weer na Braham se mahulle toe.
Toe sy dit aan die Sondagtafel aankondig, is Abel siedend.
“Ek betaal jou nie om saam met ’n man rond te flenter …”
“Pa betaal my in elk geval nie. Ek werk van lig tot donker soos ’n arbeider, sonder ’n loon. En ek
verkoop my eie beeste …”
“Waar kry jy die kalwers? En op wie se grond wei hulle? Wie dip …?”
Stoot die bord kos terug, staan op. “Of dink Pa dalk seks is ’n manier van betaal?”
Haar ma laat val die vurk kletterend in die bord. “Gertruida! Tel jou woorde! Jou pa is nie jou
speelmaat …”
“Hy dink hy is. Ek gáán Paasnaweek saam met Braham. En ek is lus en kom nooit weer terug nie.”
Loop melkkraal toe. Gaan sit by Frieda op die melkstoeltjie. Vryf haar met die klip. Fluister. Ek is moeg,
Frieda. Ek is gebroke en verward. Ek sal nooit heel word nie, al wíl ek. Ek gaan die geld in die koekblik
vir Mabel gee; sy moet Saterdae vir Pietertjie jelliemannetjies koop tot hy doodgaan. Die res kan sy vat.
Ek het nie meer die geld nodig om weg te loop nie. My voete is te seer vir wegloop. Ek is jammer ek het
nie destyds van die windpomp afgespring nie. Binnekort gáán ek.
Sit die klip neer. Laat sak haar kop teen ’n wit vlek op die koei se flank. Ek het nie beskuitjies gebring
nie, Frieda. En al sit ek jare lank elke dag by ’n sielkundige, sal niks my lap nie. Niemand kan my wonde
uitsny nie. Ek weet nie hoe om met my lewe aan te gaan nie, Frieda, want ek het nooit regtig gelewe nie.
Net oorleef. Die klein dogtertjie in my lê op die grond, soos die eiermannetjie wat van die muur afgerol
en uitmekaargebars het. Onlasbaar. Al my ankers is verwoes.
Humpty Dumpty sat on the ground
Humpty Dumpty looked all around
Gone were the chimneys
and gone were the roofs
All he could see, was buckles and hoofs …
Groet. Bêre die klip. Stap huis toe. In haar kop pak sy solank haar naweekkoffer.
Die laaste weke tot Donderdagoggend was van die langste in haar lewe.
Snags verneder Abel haar met potlode en ’n buisie lip ice; forseer haar om te speel dis Braham se ou
dingetjie. Dinsdagnag treiter hy haar met ’n verjaarsdagkoekkersie, en sê terloops hy het albei die Corsa
se sleutels gevat; sy sal Paasnaweek nêrens gaan nie.
Vroetel weer met die koekkersie. “Sê vir hom jy’s gewoond aan ’n groot stuk vleis. Sê dit nóú …”
Sy sê so. Maar eintlik probeer sy uitreken waar hy haar motorsleutels weggesteek het. Of sy is in die
apteek op die dorp, besig om vir Braham se ma ’n voetspa as geskenk uit te soek.
“Sê hy moet sy petieterige ou dingetjie uittrek, want jy voel niks. Sê dit nóú …”
Sy sê so. Die volgende oomblik druk hy haar knieë met brutale krag oop en stamp homself in haar in.
Toe gebeur iets waaroor sy geen beheer kry nie. Haar lyf begin saam met Abel s’n beweeg. Sy kreun,
gryp aan sy skouers; ruk hom nader, lig haar pelvis op. Toe is dit Braham wat by haar is. Daar bou ’n
drukking in haar op, haar keel is droog gehyg. Sy voel die ontploffing kom. Anders as ooit tevore. Die
oomblik toe die uitbarsting begin, kom sy tot haar sinne. Stamp Abel van haar af. Wriemel haarself onder
hom uit. Hardloop nakend deur toe. Af in die gang. Uit by die voordeur, die warm nag in.
Die paddas raak stil toe sy op die riviersand lê en huil. Oor die beeltenis van Braham wat sy geskend
het. As die rivierwater diep genoeg was, en as sy ’n jas by haar gehad het waarvan sy die sakke vol
swaar klippe kon stop, het sy soos Virginia Woolf die donker waters ingestap en saggies verdrink.
Omdat sy weet sy sal nooit met Braham een kan wees sonder om die afstootlike beeld van Abel
tussenin te hê nie.
Sit in die vlak water en was haar. Skuur haar lyf met sand. Spoel dit af. Toe loop sy deurkomhekkie
langs na Mama Thandeka se huis toe. Klop aan Mabel se venster. Klop weer. Mabel skuif die gordyn op
’n skrefie oop.
“Vaderland, Gertruida,” fluister Mabel en sy maak die venster wyd oop, “hoekom loop jy kaal in die