Thula-thula (afr) (5 page)

Read Thula-thula (afr) Online

Authors: Annelie Botes

BOOK: Thula-thula (afr)
11.94Mb size Format: txt, pdf, ePub

Drome, drome. Om Frankryk toe te gaan, na die Saint Claire-kerk in Avignon, om die hersenskim van

’n veertiende-eeuse digter op te soek. Francesco Petrarca, van wie sy by Braham geleer het. Om

Kiepersolkloof te omskep in ’n turksvyplaas. Om op Drieankerbaai se sand te loop, waar Ingrid Jonker

haar laaste reis afgelê het. Om op ’n trollie by die hospitaalteater ingestoot te word, sodat haar verslapte

kringspier herstel kan word. Om in die eindstryd op Wimbledon se Centre Court te speel, en te wen. Om

met Braham te trou.

As sy nie drome gehad het nie, hoe vergesog ook al, sou sy lankal ophou lewe het. Vanself

inmekaargesak en doodgegaan het. Drome neem haar weg van die verskrikkings.

Sy het haar ma vir kuiergaste hoor sê: Gertruida dwaal in ’n verbeeldingswêreld, en die ergste is dat

sy haar opmaaksels gló. Ek wil nie dink aan die dag as ek en Abel nie meer daar is nie …

Februarie se middaghitte omwalm haar toe sy voor Die Koffiekan uit haar koel motor klim. Braham se

motor staan reeds daar. Sy is moeg. Abel het haar heelweek geteister met ’n speelding wat hy oor die

internet van Amerika bestel het. Swart rubberding, oortrek met tentakeltjies. Afstootlik.

“Jy moet KY-jel bring as jy dorp toe gaan,” het hy in die nag gesê. “Batterye ook.”

Sy gáán hom doodskiet. “Bring dit self.”

Hy vererg hom en stamp die rubberding in haar op. Sy druk haar gesig teen die matras en word iemand

anders. ’n Gesiglose vrou op die trein na Avignon. Sy kyk deur die treinvenster na die wingerde en

lindebome vol groengeel blommetjies. Sy moet vir Braham ’n bottel lindeheuning saamneem huis toe.

Want hy is die soetste iets in haar lewe.

Toe die gesiglose vrou by die treinstasie afklim, hoor sy haar kamerdeur toegaan.

Sy staan onder die stort om die gemors van haar af te spoel. Maar die stort kan nie haar binneste reinig

nie.

As Braham sulke goed moet weet, sal hy haar verfoei. Verfoei Abel haar ook wanneer hy by haar

kamer uitloop?

“Hallo, Braham. Jammer ek is laat,” en sy skuif agter die nooienshaarvaring in, “ek moes koöperasie

toe vir melksalf en lê-meel. En my ma se alewige winkellysie …”

“Ek is bly jy’s hier. Jy moenie jou selfoon afskakel nie …”

“Ek moet.” Sy vat die spyskaart by die kelnerin. “Anders bel my pa aanhoudend oor nog goed wat ek

moet bring. Wit druiwesap vir my, dankie,” en sy gee die spyskaart vir Braham aan. Hy bestel ’n

piesangmelkskommel.

“So, hoe was jou week op Kiepersolkloof?”

“Sleg. Dis mislik om saam met my pa te boer. Moenie vra hoekom nie.”

“Ek mag nooit vra hoekom nie. Jy’s ’n misterie, Gertruida.”

Die dakwaaier tjierie; sy herrangskik die suikersakkies in die suikerpotjie. Druk op die bultjie in haar

hempsak waar Ouma Strydom se robynring lê. “Ek weet.”

Later ril sy toe hy die dikgeel melkskommel opsuig. Hulle praat weinig, want haar besmeerdheid druk

die praat terug in haar keel.

Dis ’n leë middag.

Skrikkeljaar is net nóg ’n dag.

Sy vat die plat klip wat sy op die kraalmuur bêre, en vryf Frieda se skof en rug daarmee. Tot by die kruis,

die boude. Ribbes, flanke, maagronding. Ondertoe, ondertoe. Sy sit die klip neer, krap Frieda se maag

met haar naels. Die koei steun.

“Ek weet jy hou nie daarvan as ek jou bene en kop krap nie, Frieda. En dis sleg as daar aan jou spene

getrek word, ek weet.” Sy vat die melkstoeltjie, stap om na die ander kant. Vryf. Maag krap. “Die

begrafnis is verby, Frieda. Kiepersolkloof is nou myne. Kom, hier’s jou beskuitjies …” Die koei eet die

beskuitjies uit haar hand. “Môre kom maak ek jou kraal skoon; dit lyk of die reën verby is.”

Sy gooi helfte van die melk in ’n ander emmer om by Mama Thandeka af te gee. Nou-nou is dit donker,

en sy moet nog by die kliphuis kom. Die hoenders sit op die stokke en maak dowwe kropgeluide toe sy

die melk in die trekkerband gooi. Môre sal die hoenders gaatjies pik in die suurwit diksel.

Toe sy omdraai om die emmer by die hokkraan uit te spoel, staan Mabel by die hok se hek met ’n

toegeknoopte brooddoek. “Mabel, vat sommer die melk …”

“Wag, Gertruida, laat ek eerste praat. Mama se bors is beterder. Ek sal vannag by jou in die huis kom

slaap as jy bang is. Jy hoef nie soos ’n jakkals in ’n gat …”

“Ek is nie bang nie, en ek kruip nie in ’n gat nie. Die kliphuis is my huis.”

“Die veld is nat, Gertruida. En maak nie saak wie of wat jou pa en ma was nie, jy moes ’n erge skrik

gevat het. Mens begrawe nie jou pa en ma elkere dag nie. Laat ek by jou kom slaap, toe?”

“Dan moet jy in die kliphuis kom slaap. Ek slaap nié in die huis voordat ek klaar skoongemaak het

nie.”

“Dan kom help ek jou môreoggend. Maar daar’s goeters wat jy my moet sê voor ek vannag my kop

neersit.”

“Vra, dit raak donker.”

“Wie gaan dinge vorentoe vasvat op Kiepersolkloof? Want laat jou pa gewees het wat hy wil, hy kon

werk, en sy kop kon reguit dink oor boer. Dan wil ek weet wat is jou bedoelendheid met die bord op die

hek. En hoe lank jy nog in die kliphuis gaan slaap.”

“Mabel, ek wil die huis alleen skoonmaak. Behalwe vir die werkies wat OuPieta moet kom doen, wil

ek niemand op die werf hê nie. Ek sal kom sê as ek klaar is. Ek en jy en OuPieta gaan boer. Hier is niks

wat ons nié kan doen nie. Vir dip en kalwers speen en groot tuinwerk kry ons kontrakwerkers. Die bord

beteken ek soek niemand sonder toestemming op my grond nie. Jy moet hou by die kortpad deur die

lusernland. As ek jou vang dat jy oor die hek klim, skiet ek jou van die hek af.”

Mabel lag. “Jy sal my nie skiet nie, Gertruida.”

“Moenie my toets nie. Ek gaan seker tot Sondagnag in die kliphuis slaap, of anders slaap ek in die

waenhuis in die bakkie.”

Mabel hou die roosterkoeke, toegeknoop in die brooddoek, na haar uit. “Mama stuur dit. Tot Sondag

sal ek elkere etenstyd vir jou kos neersit by die lusernland se deurkomhekkie, onder die kiepersol. Is jou

saak of jy dit wil vat.”

“Dankie, Mabel. Kry jou ma se medisyne en OuPieta se goed in die winkelsak by die watertenk.”

“OuPieta sal bly wees. Hy trek al glads boomgom af vir Pietertjie, want die tjint is onregeerbaar

sonder sy jelliemannetjies. Sing glo snags eenstryk deur: ‘Wat maak oom Kalie daar? Oom Kalie saai ’n

waatlemoen, hy roer sy koffie met sy groottoon om’ …”

“Besef jy hy is al in sy veertigs, Mabel? Hoe gaan ons hom versorg as OuPieta doodgaan?”

“Die Here alleen sal weet, maar ék gaan nie agter hom kyk nie. Dan iets anders: Wanneer sit jy jou

selfoon aan? Die onderwyser soek by mý na jou. Toe sê ek jy’s kliphuis toe en ek wis nie wanneer jy

terugkom nie.”

“Sê hy moet ophou om jóú te pla.”

“Vaderland, Gertruida, hy’t ’n hart vir jou. Hy’s ’n goeie trouman …”

“Ek wil nooit weer ’n man naby my hê nie. Laat staan nog in my bed. Loop nou.”

Sy kyk Mabel agterna toe sy wegloop waenhuis toe. Staan met haar middelvinger ingehaak by die

knoop van die brooddoek. Maak haar oë toe. Laat gly die letters van haar naam voor haar verby.

G E R T R U I D A

Uit jare se gewoonte om slégs die letters van haar naam tot woorde en sinne te ryg, glip die woorde

uit.
Gertruida eet die geurige gaar deeg. Gertruida draai die tragedie agteruit. Gertruida geregtig te

treur.

Sy moet ophou woorde uitdink en haar bepaal by dit wat sy het om aan te dink.

Sy spoel die emmer uit, dop dit om oor die hokkraan. Dis te laat om kliphuis toe te loop; die donker

gaan haar vang. Misweer moenie onderskat word nie. Die mis kom soos ’n dief en maak jou rigtingloos.

Sy was gesig en hande by die tenkkraan, spoel haar mond uit. Bêre die roosterkoek in die brooddoek in

die winkelsak. Sit ’n klip op die hoek van die sak sodat dit nie wegwaai nie. Stap rivier toe om vir die

paddas en die water te sê die begrafnis is verby.

Dis tien oor agt toe sy terugkom. Sy trek die nat begrafnisklere uit, hang dit aan ’n spyker teen die

waenhuismuur. Trek die oorpak aan wat sy gedra het toe sy gister geverf het. Bo-oor dit haar

parkabaadjie wat in die bakkie lê. Bondel ’n goiingsak onder haar kop en gaan lê op die bakkie se sitplek.

Gertruida dut agt ure agter die ruit. Die rugruiter tree uit die ruigte.

Thula-thula. Sjuut-sjuut. Slaap nou.

In haar voorslaap hoor sy Mama Thandeka sing, soos kleintyd toe Mama Thandeka haar met ’n

handdoek op haar rug vasgebind het terwyl sy vloere vryf. Dan raak sy met haar oor op Mama Thandeka

se trillende longkaste aan die slaap.

Thula baba, lala baba, ndizobanawe … Hush, my baby, go to sleep, I’ll be with you counting sheep:

Dreams will take you far away, sleep until the break of the day.

*

Is nagtyd hier in onse huis teen die bergrant. Ek sit op die stoel voor die binnevuur om warm te kry. Buite

in die veld is dit koud en nat. In my hart in is dit koud en droog. Want op ’n laatdag in my lewe is my

oumensasem uitgestamp deurdat Abel Oorkant toe gereis het, sonder dat ek hom kon gegroet het. Missus

Susarah ook. Dis of ek teen my kopbeen vasdink as ek aan Gertruida dink. iNkosi alleen sal weet wat

gaan vorentoe gebeur.

Hý het die koedoe gestuur. Hý moet wagstaan.

Toe Mabel terugkom met die halfemmer melk, het sy die rooi kombers oor my bene gegooi en my stoel

vuur toe geskuiwe. “Mabel, lyk dit of Gertruida hartseer is, of sy gehuil het?”

“Nee, Mama, sy huil nie. Maar darem het sy kop gehou en die borsgoeters gekry. Ek gaan Mama se rug

invrywe met Vicks, dan sit Mama voor die vuur sodat Mama nie met ’n koue lyf loop lê nie.”

Toe maak sy haar hand warm by die vuur en steek dit by die nekkant van my nagrok in. “Wat gaan aan

op die werf, Mabel? Het Gertruida die geweer by haar?”

“Sy was doenig by die hoenderhok, met haar papnatte begrafnisklere aan. Die geweer staan op die

stoep by die voordeur. Vaderland, die polieste moenie hier aankom en die geweer sommer op enige plek

sien rondstaan nie. Dis tronksake. Maar Mama moenie kommer nie, ek sal kort-kort loop spaai wat daar

aangaan.”

Soos sy vrywe, voel ek die kouete padgee uit my rug. Dis of die Vicks-dampe my kop beterder laat

dink. Is lankal dat my kop deurmekaar is, want ek is al drie-en-sewentig jare oud. Party dae dink ek soos

Samuel, my geelbruin man wat lankal afgesterf is. Ander kere dink ek soos die wit mense van

Kiepersolkloof. Maar dan weer, soos nou as die droewigheid my vat en ek sien die swart engel teen die

kosyn staan, kom my mama se taal terug in my kop. Iewerster in ’n mens bly die dinge van jou mama

altyddeur aan’t roere.

My mama is lankal gebêre, op ’n ver plek oorkant baie berge. Daar waar die bont beeste in die

langgras wei en waar die vrouens middagtyd met vasgeriemde houtbondels op hulle koppe huis toe loop.

Is ampers asof ek saam met hulle loop, so helder sien ek hulle. Ek hoor die hadidas roep uit die

oranjepers aandwolke; hulle bring die nuus dat ’n bybie iewerster gebore gekom het. Ek sien my mama

soos sy die ertappels in die pot met aandkos gooi. Of op haar kniekoppe langes die rivier. Vrywe die

kleregoed dat die skuim van die vryfklip afloop en in die vlak watertjies wegdrywe. Duidelik, soos nóú.

Soos wat ek ouerder raak, raak ek meer en meer soos ’n kleine tjint, of partykeers soos ’n stywetiet

intombi, en binnein my mond praat my tong die taal van my mama en my tata. Baie kere skrik ek, oordat ek

nie al die woorde onthou nie. Thandeka, praat ek dan troos in my hart in, dis oordat jy lankal weg is van

jou mense af. Jy’t iemand anders geword as die intombi van daardie tye.

Is waar.

Drie-en-vyftig jare al dat ek op Kiepersolkloof is, ver van die ronde huis waar ek grootgeraak het.

Mooie patrone wat my mama rondom die buitekosyn geverf het met rooibessiesap en geel riviermodder

en uitgekookte nastergalbessies. Sy’t gesê ’n hadida het my teen sonsak onder ’n soetdoring kom neersit.

Toe draai sy haar rooi kombers om my en hardloop met my in die huis in, voor die tokkelossie my gryp.

My mama, my mama …

Ek onthou hoe ruik die grondvloer wat sy met beesmis gesmeer het; hoe sing haar stem oor die werf as

sy mielies stamp. Maar dit lê te ver agtertoe. Party goeters het dof geraak, want mens vergeet baie in drie-

en-vyftig jare. Maar mens vergeet nooit hoe om in jou mama se taal te bid nie. En as die groothuil jou vat,

dan huil jy in jou tjinnertaal.

Waar het die lewe met my geloop draai dat ek vanaand hier voor die vuur sit met ’n hart wat bloei oor

’n wit man wat dood is?

Toe ek met Samuel Malgas getroud geraak het, was my mense ongelukkig oordat hy bruin is. Al het

hulle gewis hy het skool geloop, en hy kom uit ’n goeie huis daar op die witmensplaas waar onse mense

Saterdae ons kosgoed by die Trading Post koop. As die winkel besig was, het Samuel, potlood agter sy

oor, gehelp in verkooptyd. Vinnig gewees met optel en aftrek. Dis waar ons mekaar beginte aankyk het.

Daardie tye was nie vandag se tyd nie; almal het nie rond en bont gewei nie. En iedereen het geweet

Samuel Malgas het windballe, oordat hy kleintyd diknek opgeswel het van pampoentjies wat in sy lieste

loop lê het. My mense het gesê ek sal arm wees sonder tjinners om my te versôre as ek ’n ou vrou is.

Samuel was ’n mooie kerksnaam. Ek het gesien die geelbruin man het ’n slim kop en sy oë kyk

anderster na die wêreld. Is of hy verder kan sien as die plek waar die berg stop. Al kon hy my nie ’n tjint

gee nie, sou hy my tot oorkant die berge neem. Om nuwe goeters te sien. Toe hy sy donkiekar en sy

donkies agtermekaar het, sê hy hy gaan pad vat en kyk hoe lyk die wêreld.

Other books

Labyrinth by Tarah Scott
The Mystery of the 99 Steps by Carolyn G. Keene
The Second Objective by Mark Frost
Kyle's Island by Sally Derby
The Kennedy Men: 1901-1963 by Laurence Leamer
The Diehard by Jon A. Jackson