Thula-thula (afr) (34 page)

Read Thula-thula (afr) Online

Authors: Annelie Botes

BOOK: Thula-thula (afr)
3.76Mb size Format: txt, pdf, ePub

uit haar mond te borsel.

Sy kyk vir oulaas oor die sit-eetkamer. Stap in en tel Abel en Susarah se troufoto op van die

kiaathoutbuffet. Jong gesigte wat glimlag. Arms bymekaar ingehaak. En tog, in hulle oë staan die doodskyk

reeds opgeskryf.

Wat het dan gebeur? Hoe? Wanneer? Hoekom?

Sy trek die deur toe. Alles daarbinne behoort aan Mister Williston se nagedagtenis. Sy wens sy het

geweet waar hy is. Om vir hom te skryf dat Abel en Susarah dood is. Om álles te skryf wat haar jare lank

verteer het. Om dankie te sê dat hy haar geleer het van ’n aura van mistiek. Dalk is dit maklik om uit te

vind waar hy is. Maar dis sinloos. Alles in haar lewe is sinloos. Weggesteel deur Abel Strydom.

Is daar trappe van vergelyking vir haat? Haatdraendste? Hatigste? Haatlikste?

Sy staan met haar voorkop teen die toegetrekte eetkamerdeur. Fragmente uit Tannie Lyla se “Frog

Prince” flits deur haar wanordelike gedagtes.

At the feel of frog

the touch-me-nots explode

like electric slugs.

Mr Poison

is at my bed.

He wants my sausage.

He wants my bread.

Hoe kon sy, toe sy ’n dogtertjie was, weet dat ’n mens se seksorgane outomaties reageer as iemand

daarmee torring? Tot vandag glo sy sy is ’n hoer, omdat sy soms die seks geniet het. Hoe kon sy raai dis

hoe die natuur die mens gemaak het?

Stap met die troufoto potystertafel toe. Sit dit langs Anthonie en Oupa Strydom se foto’s. As sy weer

uitkom, moet sy in haar tandepastaglasie water bring vir die vergeet-mynietjies.

Eendag het sy en haar ma by die potystertafel regte tee met melk en suiker uit die boomhuiskoppietjies

gedrink. Toe vertel haar ma ’n storie van vergeet-my-nietjies. Agterna het sy weer die koppietjies daar

uitgepak vir haar en haar ma, sodat haar ma die storie weer kon vertel.

In ’n land ver oor die see, Duitsland, het ’n ridder en sy verloofde eendag op die walle van die Donau-

rivier gaan stap, hand aan hand, want hulle was lief vir mekaar. Toe sien sy ’n bossie blou blomme in die

rivier dryf en sê vir die ridder sy begeer die blomme. Omdat hy haar liefgehad het, spring hy in die rivier

en gryp die blomme voor dit wegdryf. Maar sy nat ridderklere was só swaar dat hy nie teen die

glibberige rivierwal kon uitkom nie. Toe gooi hy die bossie blou blomme vir sy verloofde en roep:

Vergeet my nie! En toe verdrink hy.

Sy wens Braham wou net één keer vir haar sê: Vergeet my nie.

Of hét hy, maar sy het gekies om dit te vergeet?

Waterbottel volmaak. Haak die .22-band oor haar skouer. Loop by OuPieta langs en sê hy moet die melk

en eiers en ryp groente tussen hom en Mama Thandeka deel. Stap kliphuis toe in die warm

noordwestewind wat opgesteek het.

Dis twee-uur.

Sy wil voor donker terug te wees. Lulu saambring en op die potystertafel sit. Sodat sy haar kind kan

begrawe. Intussen moet sy aandruk. As die noordwester omswaai na suidoos, kan die mis binne ’n halfuur

die berg insluk.

In die tweede kwartaal van graad elf, einde April, het sy haar misreken met die draai van die wind en hoe

maklik jy sin vir rigting verloor. Enigste rigting is die kompas op die liniaaltjie van jou Victorinox wat

wys waar is noord.

Sy is daardie Saterdag in die laatherfs kliphuis toe, juis omdat dit so dorwarm was. Sy wou padgee by

die tennisbaan en uit die lapakombuis, voor sy haar sweetpakbaadjie móét uittrek. Ondanks haar

graatmaerheid, kon sy al ’n rondinkie voel.

En sy wou in die kliphuis skryf aan ’n Italiaanse sonnetopdrag wat Braham die graadelfs gegee het.

Graagste van alles wou sy in die berg gaan gil. Oor ’n stiksienige landswet.

Sy sê vir haar ma sy het heelwat skoolwerk, sy gaan huis toe om te leer.

Steel Abel se nuwe gasstofie uit die waenhuis. Om hom te terg. Dis beter as sy twee gasstofies het, dan

kan sy kos en waswater gelyktydig kook. Dis goedkoop genoeg om haar eie stofies en gaskannetjies te

koop, maar dis lekker om hom te frustreer. Vandat daar nie plaaswerkers is om te blameer as diewe en

deurtrekkers nie, weet hy nie wié om te beskuldig nie.

Skuur toe. Sny ’n stuk van die seil waarmee die lusern toegemaak word met haar Victorinox af. Die

seil by die kliphuis begin deurskif, en sy wil onsigbaar wees as sy snags ’n kers aansteek. Huislangs om

blikkieskos en kitssop in die wasgoedsak te pak. Skerpmaker, uitveër. Voorgeskrewe bundel. Twee pakke

kerse. Vuurhoutjies. Trek die wasgoedsak se tou styf.

Gee Bamba kos, laat hom op die bokhaarvelletjie in haar kamer lê. Sê hy moet bly, en hy mag niemand

kliphuis toe neem nie. Hy moet maak soos sy hom leer. As Abel sê: soek haar, vat haar, waar’s sy? moet

hy in die rondte draai asof hy sy stert jaag. Mens kan ’n Jack Russell leer om baie soorte instruksies te

gehoorsaam. Om Susarah se heilige rooi boslelies te vreet, en Abel se skoene te kou. Om onder die bed in

te kruip as die deurknop snags draai.

Dis aaklig as die hond kyk.

Vier weke tevore, in die laaste periode van die eerste kwartaal van graad elf, het hulle begin met

antonieme. Teenoorgesteldes. Niemand gee aandag nie, want nou-nou is dit vakansie. Net sy gee aandag.

Eintlik nie aan antonieme nie; sy bêre ’n beeld van Braham vir die vakansie. Sy wil nie weg wees van

hom nie, maar sy smag om in die bergpoel te swem waar niemand haar swelling sien nie. Ontslae te raak

van ’n trui én skoolbaadjie in die laatsomerhitte.

“Alle woorde het nie antonieme nie,” sê Braham. “Of kan iemand my sê wat is die teenoorgestelde van

pietersielie, of kakkerlak?”

Seker om hulle wakker te hou. Toe antwoord ’n seun: “sieterpielie” en “lekkerkak”. Dit skater; almal

kyk om na die held van antonieme. Sy ook. En sy sien daar is fout met Andrea. Die sweet pêrel op haar

verwilderde gesig. Sy hét opgelet Andrea hink op pad klas toe, maar wou nie praatjies maak nie, uit vrees

dat Andrea dit as toenadering sal sien.

Almal lag; niemand sien Andrea krimp ineen nie.

Oor die breedte van die klas ontmoet hulle oë. Dierlike, geluidlose kreet. Help my! Kry Andrea ’n

hartaanval? Beroerte? Blindederm gebars? Meneer, ek vat Andrea uit, sy voel siek. Klas botstil. Voetjie

vir voetjie gang toe. Andrea sak hande-viervoet af en lê op die teëlvloer. Braham kom uit en trek die

klasdeur toe, buk oor Andrea.

“Hardloop, Gertruida, sê die sekretaresse moet ’n dokter kry. Bring ’n kombers uit die noodhulpkamer.

Hárdloop!”

Hy roep drie seuns uit die klas. Hulle sleepdra Andrea noodhulpkamer toe; sy agterna. By die trappe

gooi Braham sy baadjie oor Andrea. Minute later, voor die dokter opdaag, word die seuntjie op die

noodhulpkamer se vloer gebore, met die sekretaresse as enigste hulp.

Tydens saalafsluiting huil sy by die vullisblikke. Oor álles.

Ek móét met jou praat, Gertruida. Wanneer kan ek kom?

Liewer glad nie.

Wat sou sy doen as sy, ná jare van maanligdans en einasê, moed skraap om met iemand te praat, en die

iemand jaag haar weg?

Al was Braham nie die skoolvakansie-Saterdag by die tennis nie, het sy gaan help in die lapa.

Afgeluister. Oop kopnate. Web tussen pinkie en fielafooi-vinger. Dubbelry tandjies in sy bokaak. Geen

sprake van ’n boyfriend nie. En Andrea swyg oor die pa.

Die naweek voor die skool begin, stort Andrea se ma ineen. Terwyl sy verdoof in die dorpshospitaal

lê, loop Andrea polisiekantoor toe. Lê ’n beëdigde verklaring af: Haar pa, sy edele die landdros, is die

pa van die kind, verklaar sy.

Inhegtenisname. Nag in die tronk. Ondervraging.

Hy beken en kruip vir genade. Andrea se ma word deur die dorpsmense gestenig, want Andrea sê haar

ma weet al jare lank van alles, en het haar al voorheen gehelp om ’n kind met ’n breinaald af te bring.

Andrea en die seuntjie word deur ’n slim-alwetende maatskaplike span gestuur na ’n plek van

veiligheid. Watse plek is dít? Weg van alles wat háre is. Watter slim sisteem dink sulke onregte uit?

In ’n oogknip is die landdros ’n bandiet. Die gesin is minus die residensie-dak. Trek in ’n bokshuisie

langs die munisipale werkswinkel in. Andrea word ná twee weke met die gebreklike seuntjie teruggestuur

na haar ma en twee

boeties in die bokshuisie. Gaan nie terug skool toe nie.

Kerkkos. Kerkmedisyne. Kerkseep. Aalmoesmense.

Voor die winter is die seuntjie dood. Daar was bedroewend min mense by die begrafnis. Van almal in

die skool was net sy daar. Eerste pouse het sy openlik by die skoolhek uitgeloop. Voor tweede pouse was

sy terug. Niemand het eens agtergekom sy was weg nie.

Sy het swaar geloop met die wasgoedsak; die bergwind het haar gesig gebrand.

Loop, loop. Die bergpoel sal koel wees.

Toe sy haar kom kry, het die wind gedraai en dis yskoud. Misvlae. Binne minute omring dit haar.

Skaars twee treë sig. Haar pa het haar geleer: As die mis jou oorval, Truia, kruip onder ’n bos in vir

beskutting. Wag; vryf jou vel; blaas by jou hemp in om jou warm te hou. Moet nóóit loop in digte mis nie.

Jy sal oor ’n krans trap en jou doodval. Sodra die sig verbeter, gebruik jou Victorinox se kompas om nie

sirkels te loop nie.

Sy lóóp. Sy wíl oor ’n krans val.

Die kind roer in haar soos ’n lugborreltjie wat opskiet.

Kom, krans, asseblief. Misdruppels op haar lippe. Andrea, ek is jammer. Omdat ek nie na jou wou

luister nie. Omdat ek jou vergelyk het met ’n walvis.

Spookstem in die mis. Skreeu, roep, vloek. Niemand hoor nie. Net sy en die mis.

Vir jóú onthalwe is ek spyt jy het die waarheid gepraat, Andrea. As jy gesê het ’n onbekende het jou

verkrag, was jou pa steeds landdros. Julle sou nie in ’n bokshuisie bly en kerkkos eet nie. Tronk,

werksverlies, verarming, bespotting en beskindering sou julle uitgespaar wees.

Struikel oor ’n klip. Hoekom is daar nie ’n afgrond nie?

Dis nie wat jy wou hê nie, Andrea! Ek weet, want dis ook nie wat ek wil hê nie. Jy wou net hê die hel

moet stop! Jy wou nie jou pa in die tronk en jou ma in ’n bokshuisie sien nie! Jou kind kerkpap voer nie!

Ek weet, ek wéét!

Vlinder in haar maag. Kom, afgrond, kom.

As jy vooraf geweet het wat wag, sou jy jou bek gehou het! En dís presies hoekom ek my bek gaan hou!

Want daar is niémand wat slim genoeg is om ’n wet te maak waarby álmal baat nie. Almal dink dis tot jou

voordeel om jou en jou gebreklike kind in ’n tehuis te beskerm. Teen wát?

Die wasgoedsak en die .22 word klipswaar. Haar roepe demp in die misvliese.

Hoekom, Andrea, hóékom word ons ondraaglike pyn oopgevlek in die koerante? Hoekom het jou pa sy

werk verloor? Sy wandade is mos nie gepleeg as lánddros nie! Dis ’n siekte, Andrea, wat enigiemand kan

hê. Mens hoort nie in ’n tronk omrede van ’n siekte nie! Mens behoort gehélp te word, Andrea!

Kan sy nie maar die .22 teen haar maag druk en die vlindertjie doodskiet nie? Sy gaan nié geboorte gee

aan die kind nie.

As die maatskaplike sisteme iets wou doen om jou pa se siekte te genees, waarom stuur hulle hom

tronk toe? Hoe gaan sodomisering hom gesond maak? Hoekom is daar nie eerder psigiatriese

tronkhospitale waar sielsiekes baat kan vind terwyl hulle hulle straf uitdien nie? Waar is die slim

sielkundiges wat behoort te weet daar is ’n verskil tussen ’n krimineel en ’n siek mens? Ag, Andrea,

hoekom het jy nie eerder stil …?

Toe sy haar kom kry, is sy by die bergpoel. Dan is daar tóg ’n engel wat met jou verby die afgrond

vlieg en jou neersit by waters waar rus is.

Klere uittrek. Ingly in die bergpoel. Dryf gewigloos. Dis die eerste keer dat sy in misweer swem.

Heilig. Soos om bokant die wolke te leef in ’n huis sonder dak en mure en vloere. Sy wens Braham staan

op die wal, besig om sy

skoene uit te trek.

Dryf. Redeneer haarself tot innerlike konsternasie.

Die mis is haar kombers.

Klim uit die bergpoel. Stap die entjie terug kliphuis toe, nakend. Draai ’n kombers om haar koel lyf.

Maak kitssop op die gasstofie. Eet sagte Provitas. Tel Lulu op, vou die kombersie oop en kyk na die

gaatjie wat Mama Thandeka jare terug toegestop het. Toe sy klein was, was sy bang daar kruip ’n

bobbejaanspinnekop by Lulu in.

Nou is sy groot. En swanger. En so bang en eensaam.

Maar eendag gaan sy vir haar en Braham kos kook in die kliphuis. Dassiebredie en gestoofde uintjies.

Hulle sal op ’n hoë klip sit met Abel se Zeiss-verkyker wat sy uit die bakkie gesteel het. En lag as hulle

dophou hoe rol die bobbejane die turksvydorinkies op hulle harige voorarms af. Die wêreld sal hulle s’n

wees.

Maar heel eerste moet die kind gebore word.

Kan dit sewe jaar gelede wees dat sy die dag in die mis verdwaal het? Hoeveel pyn kan mens absorbeer

in sewe jaar? Of in sewentig?

Daar is ’n koelheid in die lug wat voorspel dat die wind gaan draai. Waaroor wil Mabel vanaand met

haar kom praat?

Vinniger aanstap kliphuis toe. Voor donker wil sy terug wees by die huis met haar skooltas se

sleuteltjie. Môreaand as dit feetjiemaan is, wil sy klaar wees met die uitgooi van Abel en Susarah se

besittings.

Koes vir die vislyn in die paadjie. Die seil by die deuropening hang skeef, anders as wat sy dit hang.

Wie was hier? Gebukkend instap. Alles is op hulle plekke. Eet ’n blik koejawels. Haal die koekblik uit

die kluis wat sy in die grondvloer gegrawe en met ’n plank toegemaak het. Heel bo in die blik lê ’n

briefie van Mabel. Dan was s´y hier.

Jy maak my moeg, Gertruida. Ek wil vanaand iets kom sê, nou sê jy jy kom kliphuis toe. Kos my

Other books

Map to the Stars by Jen Malone
A Bigamist's Daughter by Alice McDermott
Two-Part Inventions by Lynne Sharon Schwartz
The Princess and the Rogue by Jordan St. John
The Return of Jonah Gray by Heather Cochran
A Smile in the Mind's Eye by Lawrence Durrell
Summer on Kendall Farm by Shirley Hailstock
Sweet Talk by Julie Garwood